ABERDEEN NUUS - Die toestand van begraafplase in die Dr Beyers Naudé munisipale area het oor die jare hewige reaksie ontlok, veral omdat daar soveel meningsverskille oor die instandhouding daarvan is.
Terwyl talle mense hare gekloof het oor wie se verantwoordelikheid dit nou éintlik is, het 'n baie besondere jongman solank moue opgerol en self begin om die begraafplaas by die ingang van Aberdeen skoon te maak.
Luyanda McGear, aka Boss, vertel dat hy lankal begin het om die begraafplaas skoon te maak, maar dat hy dit nooit gedoen het soos wat hy dit hierdie jaar doen nie.
"Voorheen het ek maar wanneer ek my familie se grafte kom besoek sommer netjies gemaak rondom die familie se grafte. Maar hierdie jaar is dit tyd om dit ordentlik te doen. Van 'n kant af."
Dit doen McGear elke dag - nié omdat hy aangesê is om dit te doen óf betaal word daarvoor nie, maar omdat hy 'n verskil wil maak - ten spyte van die feit dat hy werkloos is en geen brood op die tafel kan sit nie. Ek doen dit vir al my geliefdes wat in hierdie begraafplaas te ruste gelê is," sê hy.
Aberdeen Raadslid Riaan van Heerden (regs) bedank "Boss" vir sy onbaatsugtige diens.
"As dit so bedoel is dat ek hieruit brood op my tafel kan sit dan sal dit so gebeur en ek sal geëerd wees. Ek wil graag hier werk. Miskien stel die munisipaliteit my aan? Miskien is daar 'n kontrak? Wie weet hoe en waar..."
Vir Aberdeen-inwoners was die onbaat-sugtige manier waarop McGear hierdie diens lewer werklik 'n riem onder die hart. Daarom het die Aberdeen Toerisme Assosiasie (ATA) begin om donasies in te samel om hom te vergoed vir sy harde werk.
Aanvanklik het hy net enkele donasies ontvang maar ten spyte daarvan dat hierdie donasies nie naastenby genoeg was om homself en sy gesin behoorlik te onderhou nie was hy baie dankbaar daarvoor en het hy onverpoosd voortgewerk met net een doel voor oë - om 'n verskil te maak.
Drie van sy vriende, Percival Fick, Heinrich Saas en Curtlin Cloete het hom aanvanklik op naweke gehelp om die begraafplaas skoon te maak, maar spring nou ook elke dag in om te help.
McGear se groot deurbraak het gekom toe ATA onlangs besluit het om hom 'n hupstoot te gee omdat hy besig is om een van die dorp se grootste toerismebates 'n hupstoot te gee.
Die begraafplaas by die ingang van Aberdeen is deesdae skoon en netjies.
"Daar is lank en diep kopgekrap en gesels. Sonder om te veel uit te brei, sal McGear vir 'n wyle brood op die tafel kan sit. ATA gaan ook aan hom die middele beskikbaarstel om nuwe opslaan-onkruid te bestry," vertel 'n inwoner wat nou verwant is aan ATA.
Alhoewel ATA nou vir McGear as kontrakteur help, is die organisasie se fondse beperk.
Enige persoon wat bereid is om betrokke te raak om hierdie vier jongmanne by te staan kan Aberdeen-toerisme by 082 463 7014 skakel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’