GRAAFF-REINET NUUS - Aberdeen-hospitaal in Hoopstraat 35, bied vanjaar vir die eerste keer op Saterdag 15 Februarie 'n Valentynsbal aan.
Die doel hiermee is om geld ten bate van die hospitaal in te samel. Luchaan Sampson, woordvoerder van die fondsinsamelingskomitee, sê dit gaan die eerste van vele fondsinsamelingsprojekte vanjaar wees en hulle beoog om op 'n hoë noot af te skop.
"Koste is R150 per persoon en dit sluit in 'n driegangmaaltyd, speletjies en pryse wat gewen kan word, asook fotostasies, en ons weet die '360 photo booth' gaan baie aandag trek".
Sampson verduidelik dat die hospitaal 'n provinsiale hospitaal is, wat beteken dat dit hoofsaaklik deur die provinsiale regering gefinansier word.
Die hospitaal beskik oor verskeie departemente, waaronder ongevalle, bevallings, mediese dienste en 'n apteek, om net 'n paar te noem.
Aberdeen-hospitaal bedien hoofsaaklik die gemeenskappe van die groter Aberdeen en omliggende plase.
Ten einde dienslewering te optimaliseer, sonder skuld te bly en uitreikingsprogramme te volhou, raak dit egter nodig om addisionele geld in te samel - vandaar die inisiatief om fondsinsamelingsprojekte van stapel te stuur.
Die fondsinsamelingskomiteelede bestaan uit Emelda Swartbooi, Luchaan Sampson, Mike May, Sharon Hart en Sonia Adoni.
Almal word hartlik uitgenooi na die bal.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’