ABERDEEEN NUUS - ‘n Aberdeen-gesin sukkel steeds om op die been te kom nadat hulle huis in Van Riebeeckstraat, Aberdeen in die vroeë oggendure op Sondag, 17 Maart deur vuur vernietig is. Wessel Mostert, beter bekend as Gully, vertel dat die brand so teen 20:00 die Saterdagaand begin het.
“Die een oomblik het ons nog gesit en televisie kyk en die volgende oomblik het die rook deur die huis begin dwarrel,” sê hy.
Hulle het dadelik na hul seun, Pierre, geroep en gevra waarheen hy met die kers geloop het. Ongelukkig het 'n onbewaakte kers wat Pierre in die badkamer vergeet het reeds die badkamer en ander gedeeltes van die huis aan die badkamer se kant laat vlamvat. Volgens Mostert het hy dadelik na die polisiestasie gehardloop waarna die brandweer ontbied is. “
Die brandweer het ‘n halfuur later opgedaag met een bakkie wat slegs 700 liter water kon dra,” vertel hy. “Ongeveer 20 minute daarna het daar darem nog ‘n bakkie opgedaag en die brand is toe geblus.”
Hy het het toe 'n smeulende kool, wat in die hoek van een van die agterste kamers se dak was, aan die brandweerpersoneel uitgewys, maar volgens Mostert het hulle nie aandag daaraan gegee nie. Hy voer aan dat teen 03:00 die Sondagoggend, daardie einste kool weer vlam gevat het en die hele huis uitgebrand. Die gesin het alles in die vuur verloor.
“Ons is daar uit met net die klere aan ons lyf. Die skoene wat ek nou hier aanhet is die enigste skoene waarmee ek gevlug het,” sê Mostert.
Van huis regmaak is daar op hierdie stadium geen sprake nie omdat die skade net eenvoudig te groot is en hulle dit glad nie kan bekostig nie. Die gesin is nou genoodsaak om in ‘n kamertjie te bly wat hulle self op die perseel van Mostert se vrou, Charmaine, se oudste seun aanmekaar moes slaan.
“Ons moes maar van die gebrande plate gebruik om die kamertjie mee te bou omdat ons geen ander boumateriaal gehad het nie. Die kamertjie lek geweldig baie en wanneer dit reën is alles onder die water,” sê Mostert.
Hy verduidelik dat sy vrou en seun darem binne by haar seun en sy vrou in die huis kan gaan slaap wanneer dit so nat is, maar dat hy maar in die nattigheid moet slaap omdat die huis nie groot genoeg is vir soveel ekstra mense nie. Hy noem dat hulle letterlik hande in die hare is omdat hulle nie weet watter kant toe nie.
“As iemand net vir ons boumateriaal kan skenk sodat ons ‘n behoorlike dak oor ons koppe kan kry,” Mostert beklemtoon dat hy baie ongelukkig oor die hele situasie is omdat dit, volgens hom, verhoed kon geword het indien die brandweerpersoneel net na hom geluister het. “Dit is die brandweer se skuld dat ons huis afgebrand het. Daar is twee mense wat kan getuig dat ek vir hulle die kool gewys het en dat hulle nie wou luister nie. Aangesien dit hulle nalatigheid is moet die munisipaliteit mos nou sorg dat ons behoorlike behuising kry,” meen hy.
Die gesin is uiters dankbaar vir die ondersteuning wat hulle tot dusver van plaaslike weldoeners gekry het. Mostert spreek spesifiek sy dankbaarheid teenoor VF+ Raadslid Riaan van Heerden, Rabie Gereke,
André Marais en ‘n anonieme plaasboer uit wat verskeie skenkings gemaak het. Hulle het egter nog baie nodig om kop bo water te hou en daarom sal enige verdere skenkings hoog op die prys gestel word.
Enige persoon wat bereid is om hierdie gesin in nood aan die hand te vat, veral met die broodnodige boumateriaal, kan Van Heerden kontak op 083 714 6278.
‘n Navraag rakende die beweerde vertraagde reaksietyd en nalatigheid van die plaaslike brandweer is aan die Dr Beyers Naudé-munisipaliteit gerig maar teen druktyd het hulle nog nie daarop reageer nie.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’