ABERDEEN NUUS - Die 10de Aberdeen Boere Rally is op15 Oktober gehou - 'n jaarlikse hoogtepunt vir elke boer.
"Dit is een dag in die jaar wat jy jou grootmenslewe vergeet en net pret kan hê,” sê Alex Lombaard, 'n inwoner van Aberdeen wat nooit dié geleentheid misloop nie.
"Soos Kersfees of piekniek toe jy 'n kind was, maar net baie lekkerder. Dis 'n dag van speel, sports, eet, drink en gesels."
Die Boerevereniging reël hierdie dag van samesyn tussen bemarkers van besighede (borge) en boere/kliënte.
Die aktiwiteite begin en eindig by Aberdeen-klub op die dorp, maar vind plaas op vier verskillende plase.
Twee en veertig borge en 95 deelnemers het van regoor die gebied bymekaar gekom. Dis by die borge se stalletjies waar dinge gebeur - maar jy die ervaring wil beleef, moet jy self kom deelneem.
Vriendelike kompetisie
“Met 42 borge en 95 deelnemers het die saamtrek boere van regoor die gebied bymekaar gebring vir vriendelike kompetisie en, nog belangriker, om verhoudings te versterk en die gees van samewerking binne die Aberdeen-boeregemeenskap te vier,” sê Karla Esterhuyse, plaas-skakelbeampte van Mohair SA.
By hierdie stalletjie het deelnemers gepoog om mini-bale binne 30 sekondes met so veel moontlik vetterige bokhaar te vul.
“As een van Suid-Afrika se voorste bokhaar-produserende streke, was dit 'n voorreg om deel te wees van hierdie geleentheid,” bevestig Esterhuyse.
Verhoudings gebou
“Dis 'n belewenis om ander mense te leer ken en te ontspan. Die mooiste: dis een dag in die jaar waar dorpenaars en boere kan saamkuier. 
Vanjaar was dit my derde Rally en al waaroor ek spyt is, is dat dit nie my 30ste een is nie, want dit bly die lekkerste dag van die jaar.
Die Aberdeen Boere Rally is bepaald uniek in die land en dit bly altyd 'n voorreg dat mense van die dorp ook mag deelneem ... Weet verseker: mis jy hierdie geleentheid, mis jy iets wat ongelooflik spesiaal en uniek aan Aberdeen-omgewing is.
Grootste respek vir en dank aan die Boerevereniging vir die Rally,” sê Lombaard.
Insameling vir kanker
Skenkings kon vooraf gemaak word vir 'n insamelingsprojek vir kanker, wat ook deur die SSK-stalletjie by Kaapse Poortjie ondersteun is. 
Die Aberdeen Boerevereniging ondersteun die projek reeds die afgelope twee jaar en het hierdie jaar R6 000 ingesamel.
Twee koolkoppe, geskenk deur Hommie Slabbert, is na afloop van die Rally opgeveil en het R13 200 ingebring.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’