GRAAFF-REINET NUUS - Kleurvol, deftig en statig soos haar uitrusting, het Sylvia Gouws (60) haar afskeidstee op Vrydag 7 Februarie by Huis Aalwynhof, Aberdeen bygewoon.
40 jaar gelede op twintigjarige ouderdom het Gouws vanaf Sterkstroom in Aberdeen aangekom, en 20 jaar gelede het sy haar CV by Aalwynhof ingedien en is onmiddellik as kok aangestel.
"O, ek kon kos maak, maar daar was baie dinge wat ek nie kon doen nie – soos om beskuit te bak! Karin het my so baie geleer."
Gouws sê vir haar bly dit telkens 'n hoogtepunt om 'n baksel beskuit te bak en suksesvol uit te droog.
Alhoewel Gouws verkies het om stil-stil afskeid te neem, het sy op versoek wel 'n woord van wysheid aan haar kollegas gelaat: hulle moet altyd onthou dat ouer mense geduld en liefde nodig het - "... julle moet met geduld werk, moenie kwaad word nie, gee altyd maar 'n sagte antwoord".
Aan die jonger geslag in die algemeen vra Gouws dat hulle ouer mense met liefde sal bejeën. Sy het haar kollegas en veral vir Karin van den Heever, hoof van die kombuis, hartlik bedank vir al die hulp deur die jare, veral toe dit vir haar moeiliker begin raak het om die swaar kastrolle op te tel.
Maar haar grootste dank gaan aan haar Hemelse Vader: "Ek het elke dag vir die Here gebid vir krag en geduld; gevra dat die Here my krag sal gee om hard te kan werk."
Braam Meyer, een van Aalwynhof se inwoners, het Gouws namens die inwoners bedank vir haar getroue diens en 'n geskenk aan haar oorhandig.
Sy sê sy kan nog nie dink dat sy nou klaar gewerk het nie, maar haar gesondheid is nie meer wat dit was nie.
"Ek gaan nou eers net by die huis sit. Ek wil nie loop sit nie, maar my gesondheid sê anders."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’