GRAAFF-REINET NUUS — Graaff-Reinet en omliggende omgewing het Vrydagmiddag bykans oorstroom toe tussen 40 en 60mm reën binne ’n bestek van twee ure tydens ’n hewige donderstorm uitgesak het.
Strate het op verskeie plekke verspoel, paaie is beskadig en menige inwoners het waterskade aan hul huis en eiendom opgedoen.
Aansienlike reënvalsyfers is teen Vrydagaand reeds deur die publiek gerapporteer.
Dit blyk egter dat die reën grotendeels oor Graaff-Reinet se perdeskoen uitgesak het met lesings van tussen 40mm en 55mm wat deur inwoners van dié area aangemeld is.
Ferdi de Wet in Adendorp het 'n lesing van 26.5mm gekry, met inwoners in Louis Trichartlaan in Bergendal wat 43mm oor die loop van die hele naweek gelees het.
Stormwaterdreineringstelsels
Na dié onverwagse reënbui, het menige Graaff-Reinetter genoem dat dit wil voorkom of die stormwaterdreine en -kanale verstop is siende dat die water in die strate nie vinnig genoeg dreineer het nie.
Die Advertiser het dit opgeneem met die plaaslike munisipaliteit wat in reaksie op die navraag gemeld het dat die kanale en dreine gereeld deur hulle skoongemaak word.
"Alhoewel die munisipaliteit hul bes probeer om die stelsel in stand te hou, word daar ook egter van die inwoners verwag om hul uiterste bes te doen om te verseker dat die stormwaterdreine nie oorstroom nie," sê kommunikasie beampte Leolynn Smith.
"Dit beteken dat daar niks in die dreineringstelsel gegooi moet word wat die vloei van water nadelig kan beïnvloed of die stormwaterdrein kan beskadig nie."
Sy voer aan, "Sou 'n lid van die publiek verantwoordelik wees vir die verstopping van 'n drein, sal daar volgens die verordening wat strate en stormwater reguleer, van die inwoner verwag word om dit onmiddelik te rapporteer aan die munisipaliteit. Daar sal dan van die individu verwag word om redelike maatreëls te tref om die gevolge van die voorval tot die minimum te beperk. Die koste van die opruimings bedrywighede, insluitend die rehabilitasie van die omgewing, sal dan ook die verantwoordelikheid van die individu wees.
Inwoners kan, gedurende kantoorure 049 807 5756 of 049 807 5904 skakel om 'n verstopte drein aan te meld, of na-ure - in geval van nood - 078 151 4587.
Waterbeperkings
Alhoewel Graaff-Reinet en omgewing goeie reënval ervaar het, staan die dam se vlak stil by 21,89% en moedig die munisipaliteit inwoners aan om water so spaarsamig moontlik te gebruik. Die waterbeperkings bly nog steeds van krag.
Hierdie waterbeperkings meld dat dit verbode is om water vanuit die munisipaliteit se watervoorsieningstelsel te gebruik vir die tuin, dit wil sê die natlei van grasperke, blombeddings, sportvelde, rolbalbane, en dies meer.
Dit is ook verbode om sementfonteine en dammetjies in die tuin vol te maak, om swembaddens en soorgelyk vol te maak en om plaveisel, mure, dakke, geboue en soortgelyke strukture te was.
Die gebruik van tuinslange, sproeiers, drupstelsels en dies meer word ook verbied.
Dit is basies verbode om 'n tuinslang of enige tipe besproeiingstelsel aan 'n kraan wat water uit die munisipaliteit se watervoorsieningstelsel kry, te koppel en in werking te stel.
Die volgende is uitsonderings op dié verbod:
• Die gebruik van herwonne water verkry uit ander bronne as die munisipaliteit se watervoorsieningstelsel s'n.
• Die natmaak van tuine, blombeddens en grasperke deur middel van 'n houer.
• Die gebruik van 'n tuinslang of besproeiingstelsel vir brandbestryding.
• Die vul van 'n nuwe swembad na afloop van die aanvanklike konstruksie.
• Karwas-besighede waar ten minste 70% van die water herwin word. (Dit is ook toelaatbaar om voertuie met 'n emmer te was.)
• Die natmaak van plante, bome en struike in kommersiële, staats-en munisipale kwekerye,
• Die vul van swembaddens by hotelle, fiksheidsentrums, mediese sorg sentrums, skole, opvoedkundige instellings en instellings van hoër onderwys.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'