Gallery Update
GRAAFF-REINET NUUS — 'n Reuse brand wat omstreeks 10nm Maandagaand, 20 Maart, in Graaff-Reinet se sakekern uitgebreek het, het 'n groot deel van die Mark van die Huisvrou-gebou in Kerkstraat in puin gelê.
Volgens Chris Rhoode, bestuurder van die plaaslike munisipaliteit se Beskermingdienste, het hulle omstreeks 9.51nm op die munisipaliteit se na-ure noodnommer 'n oproep ontvang vanuit die polisie se radiobeheerkamer oor 'n brand wat aangemeld is langs die Riverside-sentrum. Kort daarna het hulle 'n oproep van Sakkie van Zyl, eienaar van FB van Zyl & Seun, ontvang wat gerapporteer het dat 'n gebou langs sy besigheid aan die brand is.
Plaaslike brandbestryders was toe minute later op die toneel en het hulle dadelik ingespring om die vuur, wat toe reeds deur die hoë dak gelek het, te blus. 'n Muur aan die een kant van die gebou het ook reeds in duie gestort.
Hulle het die vuur stelselmatig van buite af begin blus met die waterkanon terwyl daar gepoog is om toegang tot die erf en gebou te kry.
Lede van die plaaslike polisie het die brandbestryders te hulp gesnel en die gebied afgesper waarna die redding- en nooddienstepersoneel - nadat hulle bevestig het dat niemand in die voorval beseer is nie - ook hul hulp aangebied het.
Aangesien daar geen brandkrane naby aan die brandende geboue geleë is nie, het die brandbestryders nog 'n brandweerwa by die stasie gaan haal.
Brandweerman JJ Meshilinie het intussen, gewapen met 'n brandslang, die vuur vanuit FB van Zyl & Seun se perseel begin aanval.
Volgens Rhoode het 'n deel van die buitemuur dit baie moeilik gemaak om te sien watter soort materiaal aan die brand was en het die brandbestryders dus gekonsentreer op die vuur wat teen die verdelingsmuur tussen FB van Zyl & Seun en Mark van die Huisvrou gewoed het.
"Een van die omstanders het my meegedeel dat daar baie gassilinders in die brandende stoorkamer gestoor word, maar hy kon nie duidelik identifiseer waar hulle geleë was nie. 'n Groot ontploffing het die area eweskielik geruk en Meshilinie heeltemal van balans af gegooi wat veroorsaak het dat hy beheer oor die brandslang verloor het - hy kon darem daarin slaag om vinnig weer beheer oor die brandslang te neem." sê Rhoode.
Die twee brandweerwaens moes elk drie keer hervul word met water en het die twee waens mekaar by die toneel van die brand afgelos om dit te kon bewerkstellig.
Die brand is mettertyd onder beheer gebring en het die brandbestryders tot kort voor 4vm die oggend op die toneel gebly om te verseker dat die brand ten volle geblus is.
Vroeg Dinsdagoggend het Rhoode 'n oproep ontvang waarin daar gemeld is dat van die smeulende puin weer opgevlam het.
"Ons is toe dadelik na die toneel waar ons die smeulende materiale geblus het," sê Rhoode.
"Tydens dié bedrywighede het ons opgemerk dat daar nagenoeg 50 gassilinders in 'n hoek van die perseel gestaan het. Wat merkwaardig is, was dat hulle presies geleë was waar die brandbestryders hoofsaaklik gekonsentreer het met hul brandslange. Ek het dadelik vir myself gesê dat my instinktiewe besluit om die vuur op 'n sekere manier te beveg die regte een was, en dat dié aksies tot gevolg gehad het dat menige lewens en eiendomme gered is, siende dat niemand in die nabye omgewing die slag sou oorleef het as dié gassilinders ontplof het nie."
Daar is later vasgestel dat die persoon wat verantwoordelik is vir die stigting van die vuur deur lede van die gemeenskap aangekeer is.
Hy is in hegtenis geneem en 'n saak van brandstigting is by die plaaslike SAPD geopen.
'n Groot stoorkamer by Mark van die Huisvrou het in die slag gebly en het die vuur ook 'n stoorkamer by die aangrensende besigheid, FB van Zyl & Seun, geheel en al vernietig.
Die optrede van die brandweerdiens het egter verhoed dat die brand na die res van die geboue versprei het.
Noodselfoon gesteel tydens brand
Terwyl die branbestryders op die toneel teen die vuur gespook het, is die noodselfoon van die brandweerdiens uit die brandweerwa gesteel.
Rhoode verduidelik: "Nadat ek omstreeks 3.40vm Dinsdagoggend ontdek het dat die foon weg is, het ek die nommer onmiddelik geskakel. Dit het net gelui en met die derde poging is die foon skynbaar afgesit. Indien iemand enige inligting hieromtrent het, word hulle gevra om asseblief die Beskermingsdienste by 049 807 5743 te skakel. Die telefoon is swart in kleur met 'n rooi selfoonsakkie.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'