NXUBA NUUS - ’n 72-jarige verdagte het op Donderdag 29 Januarie in die Nxuba-landdroshof verskyn in verband met beweerde handel in dagga, vervoer van dagga en die besit van dwelms.
Dit volg nadat hy Woensdag 28 Januarie deur die Nxuba Misdaadintelligensie (CI) en honde-eenheid (K9) op die R61 tussen Tarkastad en Nxuba in hegtenis geneem is.
Luidens lt.kol. Kolonel Siphokazi Mawisa, mediawoordvoerder van die Oos-Kaapse polisie, word daar beweer dat die polisie op Woensdag 28 Januarie, omstreeks 09:30, inligting ontvang het oor ’n persoon wat dagga tussen Tarkastad en Nxuba sou vervoer.
’n Intelligensiegedrewe, interaktiewe, taktiese operasie is gemobiliseer deur die gesamentlike span.
’n Toyota Corolla wat aan die beskrywing voldoen is opgemerk en is vervolgens sowat 10 km buite Nxuba voorgekeer.
Die 72-jarige bestuurder, ’n inwoner van Lingelihle in Nxuba, is op die toneel in hegtenis geneem nadat ses groot sakke en een kleiner sak dagga tydens die deursoeking van die voertuig in sy besit gevind is.
Al sewe sakke dagga en ’n Samsung-selfoon is gekonfiskeer.
Die Toyota Corolla, wat vermoedelik in die pleging van ’n misdaad gebruik is, is ook gekonfiskeer.
Die totale kontantwaarde van die gekonfiskeerde items word op meer as R450 000 geraam.
’n Volgende hofdatum is nog nie deur die nasionale vervolgingsgesag bekend gemaak nie.
Die distrikskommissaris, genl.maj. Rudolph Adolph, het die gesamentlike sukses van die eenhede geprys.
Hy het sy kommer uitgespreek oor die betrokkenheid van bejaardes by dwelmsmokkelary, terwyl hulle diegene is wat wetstoepassers behoort te help om dwelms van die strate te verwyder, om hul kleinkinders te red.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’