CRADOCK NUUS - Die skilderagtige bergroetes en ingewikkelde rivieruitdagings by Jenkins Creek, langs die R390, 13 km van Nxuba af, het vanjaar vir groot opwinding tydens die 4x4- ope dag gesorg, wat op Saterdag 22 Maart daar deur die Cradock 4x4-klub aangebied is.
Altesaam 44 4x4-voertuie het met bestuurders en al van regoor Suid-Afrika opgedaag.
Die afgelope langnaweek het die deelnemers van Gqeberha, Oos-Londen, Gariep, Kaapstad, Oesterbaai en Port Alfred die geleentheid gegun om hul sport te beoefen.
“Hierdie jaar was ons klub bevoorreg om heerlike weer op dié ope dag te kon hê; die veld was pragtig groen, al die driwwe het geloop.
Dit gebeur selde dat die natuur sy eie water- en modderuitdagings op 4x4- ope dae bied,” vertel Bernard Costerus, tesourier en media- en radioverteenwoordiger van die Cradock 4x4-klub.
Wilde pypkarre van Gqeberha het ook deelgeneem, op ’n baan wat spesiaal vir hulle deur Johan Opperman gebou is. Die vertoning het wye belangstelling geniet.
Jenkins Creek was die perfekte venue vir dié jaar se ope dag en ook vir die pypkarvertoning, veral omdat die Jenkins-sloot as hindernisroete gebruik kon word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’