KAROO NUUS - Uit alle windrigtings is honde en katte aangery na die Chris Hani Community Centre in Eluxolweni vir sterilisasie.
Lin Opperman, inwoner van Hofmeyr het ‘n uiters suksesvolle sterilisasieveldtog gereël vir 11 Junie, en daar was altesaam 50 diere-eienaars wat opgedaag het, met hul troeteldiere.
Vier veeartse het vanaf Queenstown gereis, twee vanaf Cradock en een vanaf Middelburg, om behulpsaam te wees.
Operasies het vanaf 09:00 begin en altesaam 40 diere, waarvan die meerderheid honde was, is gesteriliseer. Teen 14:00, moes operasies gestaak word, sodat veeartse kon opruim en nog terugkeer na hul tuistes, terwyl daar nog diere in die ry gewag het.
Talle vrywilligers het opgedaag, soos gereël deur Opperman, terwyl Morné Bosch, huisvader van Huis Alida, Hugs of Hope se pleegsorghuis en diereliefhebber en Dawid van der Merwe, afgetrede versekeringskonsultant asook tesourier by Hofmeyr Hugs of Hope en diereliefhebber ook teenwoordig was.
Opperman probeer om jaarliks so 'n geleentheid te reël. Sy en Joey Slabbert (Hofmeyr-gastehuiseienaar) voed talle straathonde en is deur Hofmeyr Hugs of Hope bewillig om ook behulpsaam te wees.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’