ROBERT SOBUKWE DORP NUUS - Op 5 Mei was dit presies twee maande sedert belangstellende inwoners, meer as 38 000 besware teen naamsveranderinge in die Oos-Kaap by Gayton McKenzie, Minister van Sport, Kuns en Kultuur, ingedien het.
Volgens Samantha Graham-Maré, DA Raadslid en Dr. Beyers Naude-kiesafdelingleier, was daar, behalwe vir ’n ontvangsbevestiging, geen verdere kommunikasie van die minister se kantoor nie.
“Die besware wat ingedien is, was in reaksie op die publikasie van die naamsveranderinge vir Graaff-Reinet, Adendorp, Aberdeen, Barkly-Oos en Oos-Londen.
Ingevolge die Wet op die Suid-Afrikaanse Geografiese Nameraad het diegene wat teen die naamsveranderinge gekant was, 30 dae gehad om besware by die minister in te dien,” sê sy.
Ook in reaksie op die Graaff-Reinet Advertiser se beriggewing word daar gereeld reaksies vanaf lesers ontvang wat navraag doen oor die huidige toedrag van sake.
“Die reg om besware by die minister in te dien, was ’n wesenlike feit wat uit die Staatskoerant weggelaat is.”
Volgens Graham-Maré het hierdie fout van weglating die Staatskoerant na die DA se mening onwettig en ongrondwetlik gemaak, “maar die minister blyk nie bekommerd te wees oor sulke onbenullige kwessies soos regsdokumente en openbare deelname nie”.
“Alhoewel die wet vereis dat die minister op elke beswaar met sy besluit reageer, sowel as die rede daarvoor, skryf dit nie die tydperk voor waarin dit gedoen moet word nie.”
Volgens die Wet op die Bevordering van Toegang tot Geregtigheid moet enigiemand wat nadelig geraak word deur ’n administratiewe besluit egter binne 90 dae ’n antwoord ontvang.
Indien nie, word daar vermoed dat die besluit sonder goeie rede geneem is.
Dit kan daartoe lei dat die besluit omvergewerp word.
Graham-Maré het McKenzie versoek om die besluit te hersien, duidelike tydlyne te verskaf en die uitslag aan die 38 544 mense wat beswaar gemaak het, te kommunikeer.
“Hy moet rekenskap gee van sy besluit of dit heroorweeg.
Inwoners van hierdie vyf gebiede moet nie onbepaald in limbo gelaat word terwyl hy sy wetlike verpligtinge ignoreer nie.”
Hierdie proses het gemeenskappe verdeel en ons fokus weggeskuif van die skep van eenheid, werk en ekonomiese groei, het sy gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’