OUDTSHOORN NUUS - Die gemeenskap van Beaufort-Wes is in afgryse gelaat nadat 'n 18-jarige gr. 11-leerder van Beaufort-Wes Senior Sekondêr se bloedbedekte liggaam deur polisie in sy tronksel gevind is.
Gerdo (Arch) Karelse is vir beweerde aanranding in 'n sel saam met 'n 29-jarige man, wat vir gesinsgeweld aangekeer is, toegesluit.
Na bewering is hy ook deur die man gemartel. Die sel en die tralies waarin Gerdo aangehou is, was vol bloed. Sy tande is uitgeslaan en 'n deel van sy gesig is na bewering vergruis. Zuko Mqungquthu het Dinsdag op aanklag van moord in die hof verskyn. Hy sal weer op 5 Julie in die hof vir 'n formele borgtogaansoek verskyn.
Sannie Wyls, Gerdo se ma, sê die beweerde voorval waarvan Gerdo van aanranding beskuldig is, was nonsens.
"'n Man wou hom en sy suster Saterdagaand met sy kar omry. Toe Gerdo praat het die man uitgespring en hom kom aanrand.
Beide sy oë was blou geslaan. In die stoeiery is die kar se ruit per ongeluk gebreek. Die man het egter 'n ander storie aan die polisie gaan vertel. Die Sondagmiddag het die speurder hom by die huis kom haal. Sy ouer broer was saam polisie-stasie toe, want Gerdo sou net 'n waarskuwing teken om Maandag in die hof verskyn," het sy gesê.
Sy het verder gesê dat Gerdo in die polisieselle toegesluit is.
"Sy ringe en veters is deur die speurder aan sy broer gegee. Dit was die eerste keer dat hy in polisieselle toegesluit is. Hy was 'n voorbeeldige kind en het nooit probleme gegee nie. Hy is onder valse voorwendsels deur die polisie by die huis weggevat. Dis hulle skuld dat hy vermoor is."
Wyls sê sy hoor dat haar seun se beweerde moordenaar amok in die selle gemaak het voor Gerdo toegesluit is.
"Die mense sê dat hy in 'n sel saam met ander volwassenes was. Hy is daar uitgehaal omdat hulle gekla het dat hy aggressief is. Toe sit hulle hom saam met my seun in 'n sel!"
'n Ingeligte bron sê die dorp steier nog onder die grusame moord.
"Dis 'n skande dat 'n jong seun, wat sy lewe voor hom gehad het, saam met 'n volwassene in 'n sel gesit is om hom 'n les te leer.
"Die kind het geen kans gehad teen sy moordenaar nie. Hy is brutaal doodgeslaan.
Zuko Mqungquthu is al van 24 Junie af in aanhouding nadat hy sy ma rondgepluk en huismoles gemaak het. Sy het toe al gesê dat hy baie aggressief is en soos 'n mal mens optree."
Kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig. "Die bebloede lyk van Gerdo Karelse is Maandag-oggend omstreeks 06:15 in die polisieselle gevind.
Die oorledene het veelvuldige beserings aan sy gesig gehad. Die oorsake rondom die omstandige van sy dood word intern ondersoek. Die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) sal die formele moordklag teen die verdagte ondersoek."
ARTIKEL: LIEZL VAN NIEKERK
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'