GRAAFF-REINET NUUS - Victor 'Vic' Verwey van Graaff-Reinet is lief vir kosmaak; 'n stokperdjie waarin hy ietwat van 'n bobaas is.
Sy rakke is vol kookboeke, en vriende loer gereeld in om aan een van sy disse te smul.
Ons deel graag een van sy gunsteling resepte. Laat weet as u dit uitgetoets het, en loer volgende week weer in om te sien wat in Vic se kombuis wag.
Waterblommetjie-bredie:
- 1 kg skaapvleis in blokkies gesny, en 1 koppie gesnipperde spek of skaapbors in porsies gesaag.
- 2 middelmatige uie
- 1 kg waterblommetjies
- 3 middelmatige aartappels in blokkies gesny
- sout en peper
- 240 ml vleisaftreksel
- vars suurlemoensap na smaak
- (ongeveer 15 ml) of 2 groot suurlemoene gekap
Metode:
Was blommetjies deeglik. Braai vleis wat met sout en peper gesprinkel is, bruin. Haal vleis uit en braai uie goudbruin in dieselfde vet. Sit vleis terug in kastrol, voeg al die ander bestanddele, behalwe suurlemoensap, by.
Laat stowe stadig tot vleis sag is. Moet nie onnodig roer nie. Vul aan met klein hoeveelhede vleisekstrak indien nodig.
Wanneer gaar, geur met suurlemoensap. Bedien met rys.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'