Video
GRAAFF-REINET NUUS EN VIDEO - Poppe, speelgoed en spesiale geskenkies, met liefde gebrei en met 'n soentjie geskenk.
Elzie Combrink (82) van Wesstraat, Graaff-Reinet, beoefen haar breikuns al vir bykans vier jaar elke dag om kinders en senior burgers se harte bly te maak.
Gedurende 2014 het Elzie en haar man, Pieter, van die Ventersdorp-distrik na Graaff-Reinet verhuis. Hier het sy vrede, genot en terapie gevind deur haar breiwerk. Om 'n pop te brei en stop is haar gunsteling, maar sy het al Kersklappers met lekkergoed, waslappies met sepies, truie, en vele ander items met haar talent en twee breinaalde gemaak.
Elzie vertel sy het begin om vir die Midland Hospitaal en Vuyani Safe Haven poppe en ander items te maak. Dit sê sy, terwyl meer as 80 poppe, mooi in stewige drasakke verpak, gereed om na die Rooikruis Kinderhospitaal in Kaapstad vervoer te word.
Hierdie poppe, gesoengroet om liefde en terapie voort te dra, word nie verkoop nie. Sy gee dit verniet.
Die rustigheid kan in haar voorkamer aangevoel word, soos sy haar breiwerk-verhaal vertel.
Haar hoofdoel met die wolprodukte is om terapeutiese resultate by getraumatiseerde kinders en bejaardes aan te help.
Terwyl ons gesels vou sy haar hande styf om 'n pop. "Dis Hasie," sê sy. "Nie een van die poppe is dieselfde nie." Haar positiewe energie word met die rustigheid waarin sy omring is deel van die produk; sy skep hoop vir ander.
Die wol wat Elzie gebruik word aan haar geskenk, want haar liefde vir wat sy doen word met wol en wederliefde teruggeploeg in haar lewe.
"Wat ek doen het 'n passie by my geraak. Ek sal aanhou daarmee solank as wat my gesondheid dit toelaat," sê sy.
"Hoe lank brei Tannie aan so poppie?" vra ek.
"As ek vanoggend gaan sit kan ek een per dag brei," spog sy beskeie. "Waar is tannie se eerste pop en wat is sy naam?" wil ek weet, ingetrek in haar wêreld.
Sy staan op en stap na 'n groot blou drasak. Versigtig trek sy die sak vorentoe en pak haar geliefde skeppings een vir een uit. Toe haal sy die een uit waarna sy soek. "Dis Mamma Pop, my eerste liefde, maar sy is ook nou op pad die Rooikruis Kinder Hospitaal. Sy moet gaan terapie gee vir die kinders."
Kyk 'n video hieronder:
Op die bank gaan sit sy weer. Sy sit vir Hasie en Mamma Pop langs haar neer en begin die een na die ander pop uithaal. Ek moes haar keer.
Sy raak deel van die popwêreld en wil net uithaal en wys.
"Ek gesels met hulle terwyl hulle vorm kry. As ek hulle groet, dan soen ek hulle op hul mondjies en sê: ek hoop die mamma wat jou kry gaan lief wees vir jou."
'n Mens put soveel meer as net popspeel uit Elzie se versameling. So tussen die breiwerk kook sy ook konfyt. Dít is ook vir haar medemens. "Ek gee dit weg. Dis vir hulle wat nie het nie."
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'