TUINROETE | KAROO NUUS - Die ontvangs van rapporte is een van die mees stresvolle tye in baie gesinne se lewens.
Kinders is nie net bekommerd oor hul punte nie, maar ook oor hul ouers se reaksie. Ouers is ewe bekommerd oor hul kinders se akademiese sukses en kans op ‘n goeie toekoms.
Die doel van die rapport is nie om ouers paniekerig te maak of massahisterie te veroorsaak nie, maar eerder om terugvoer oor jou kind se vordering te gee. Woedende ouers en ontstelde kinders los nie probleme op nie. Dit veroorsaak net meer spanning.
Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) deel ’n paar wenke hoe om rapportspanning te benader.
· Luister eers voordat jy optree.
Gesels vooraf met jou kind oor sy vakke, eksamen, en rapport. Luister en moet beslis nie raas nie. Vind uit hoe jou kind oor sy vordering van die afgelope termyn voel. Ongeag jou kind se uitslae, is dit belangrik vir ’n ouer en ’n kind om saam te sit om vakke, punte en moontlike struikelblokke te bespreek. Hierdie gesprek is ? baie belangrike deel van ‘n ouer se aktiewe deelname in hul kind se opvoeding.
· Begin die gesprek op ‘n positiewe noot.
Wens hulle geluk met die vordering wat gemaak is in vakke wat hulle voorheen uitdagend gevind het en gee ’n beloning daarvoor. Indien daar geen vordering in die punte is nie, prys jou kind oor hoe goed hy met maats oor die weg kom, of sy deelname aan buitemuurse-aktiwiteite.
· Waak teen te veel druk.
Ons almal wil hê ons kinders moet goed presteer en vir baie ouers is goeie punte ‘n teken van hierdie verwagting. Goeie punte kan ‘n aanduiding wees van sukses vorentoe. Té veel druk kan egter teen ‘n hoë prys kom, en lei tot sosiale, emosionele en fisiese spanning.
· Behou perspektief en wees versigtig vir onrealistiese verwagtinge.
Ouers moet in ag neem dat nie alle leerders top akademiese presteerders is nie. Let ook op ander talente waaroor jou kind beskik, soos goeie menseverhoudinge, deursettingsvermoë, kreatiwiteit en ondernemingsgees en gee daarvoor ook erkenning.
· Moenie jou kinders (en hul punte) met mekaar vergelyk nie.
Elke kind is uniek, presteer op verskillende vlakke en het verskillende sterk- en swakpunte.
· Ontleed die vraestelle en kyk wat is die basiese konsepte wat jou kind nie verstaan nie.
Bly op hoogte van jou kind se vordering. ’n Goeie onderwyser sal jou help om te verstaan waarom die bepaalde punte verwerf is en raad gee oor hoe om die punte te verbeter.
· Werk saam met jou kind aan ’n plan.
Fokus op die stappe wat gevolg moet word om hom/haar weer op koers te kry. ’n Goeie of slegte punt word nie net gegee nie, dit word verwerf. Hoewel ouers die las moet help dra, ekstra onderrig kan reël, help met huiswerk of selfs ‘n skedule opstel om seker te maak die werk word gedoen, moet kinders besef dat net hulself iets aan hul punte kan doen.
· Ondersteun jou kind, sonder om te veroordeel.
Sit saam en besluit op realistiese doelwitte.
En onthou: Jou kind is soveel meer as ‘n rapport. Akademiese prestasie is nie die geheelbeeld van jou kind nie. Ondersteun hom/haar om met selfvertroue probleme aan te pak en op te los.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'