Gallery
GRAAFF-REINET NUUS - Hoër Volkskool se matrikulante het nou uiteindelik klaar geskryf en kyk vorentoe na ’n welverdiende vakansie ná die lang eksamen.
Die klas van 2018 het Maandag, 26 November, die eksamen afgesluit met die voltooïng van hul laaste vraestel.
Na afloop van dié dag se eksamenvraestel, het die leerders se ewe opgewonde ouers 'n erewag voor die eksamensaal se deur gevorm en gestaan en wag om die jong volwassenes in die grootmenswêreld te verwelkom.
Die ouers het die matrikulante daarna bederf met 'n glasie sjampanje waarna die matrieks dit goed gedink het om hul skoolskoene te skenk ten bate van hulpbehoewende leerders in die gemeenskap.
So ook is die matrikulante se skryfbehoeftes bymekaar gemaak wat toe aan die NG-kerk geskenk is ter ondersteuning van hul skryfbehoeftesprojek.
Hennie van Rooyen, die hoof, het die matrieks sterkte toegewens met die afwagting van die eindeksamen se uitslae en hulle alle sukses vir hul toekoms toegewens.
'n Woordvoerder vir die skool sê die eksamens het seepglad verloop.
Tinica Grassman, Annelou van der Mescht, Engeri Fourie, Zileke de Jager en Lynette Ittershagen-Strauss sien uit na die toekoms.
Die matrikulante se ouers het ‘n erewag gevorm.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'