GRAAFF-REINET — 'n Baie interessante en verrykende damestee word beplan vir Woensdagoggend, 9 Augustus, in Graaff-Reinet.
Die geleentheid sal gehou word in die Te Watersaal te Bourkestraat om 10:00.
Tydens dié tee sal die direkteur van die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) uit Port Elizabeth almal teenwoordig toespreek oor die hedendaagse uitdagings wat vroue en kinders mee te maak het.
Verder sal die direkteur verduidelik waarvoor die CMR staan en die werksaamhede binne die organisasie.
Daar sal ook uitgebrei word oor hoe inwoners betrokke kan raak om opheffing in die plaaslike gemeenskap te bewerkstellig.
Die plaaslike CMR-kantoor rig 'n uitnodiging aan alle belangstellendes om die oggend saam met hulle te geniet.
‘n Gasvrou word toegeken per tafel van 10 wat dan aan elke gas ‘n kaartjie beskikbaar sal stel teen R50 elk - dit sluit verskeie gelukkige trekkings in.
Alle fondse hierdeur geïn sal ten bate van hulpverlening vir behoeftige gesinne aangewend word.
Enigeen wat bereid is om as gasvrou op te tree, word gevra om asseblief die NG Grootkerk se kantoor te skakel by 049 892 2422 vir 10 kaartjies.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'