CRADOCK NUUS - Sowat 50 motorfietsryers van die Oos-Kaap het die afgelope Saterdag, 11 Februarie, in Cradock hulde gebring aan mede-motorfietsryers wat oor die jare in padongelukke op hulle ysterperde gesterf het.
Talle ryers het vanaf Graaff-Reinet, Middelburg, Somerset-Oos, Grahamstad en Queenstown gereis vir die ontbyt in die AGS se koffiekroeg.
Daarna is 'n roete gevolg na die kerk waar die res van die verrigtinge plaasgevind het.
Die hooforganiseerder, Gerhard Greyvenstein, sê 90% van diegene aan wie hulde gebring is, is oor die laaste 15 jaar in ongelukke dood.
"Ons het hulde gebring aan 16 gevalle makkers. Hulle gesinne was ook daar. Pastoor Kobus van der Mescht het die boodskap gebring en Chris en Elmarie Brits het opgetree. Chris het ook 'n spesiale lied gesing vir die geleentheid, Harley Spore en ons motorfietsryers het Sal ons ou vriende ooit vergeet gesing."
Huldigingskruise is na die verrigtinge aan familielede oorhandig.
"Wanneer iemand vir jare by die groep betrokke was, word hulle ook in die jaar na hul dood gehuldig. Dit word elke jaar gehou, want ons sal hulle nooit vergeet nie," sê Greyvenstein.
Daar is heerlik tydens ontbyt in die AGS se koffiekroeg gekuier.
Huldigingskruise is aan elke familie oorhandig.
Die motorfietsryers koel af na 'n lang rit na Cradock. Foto's: Gerhard Greyvenstein
'Ons bring jou die nuutste Cradock, Karoo nuus'