KAROO NUUS - Die afgelope naweek, 21 tot 23 Julie, was tot dusver die koudste naweek hierdie winter in die Noord-Oos-Kaap.
Temperature ver onder vriespunt is Donderdagnag aangeteken, met -7° gemeet deur Deon Botha op die plaas Groene Nek buite Molteno.
Ysreën en sneeu het ook tussen Hofmeyr en Molteno uitgesak, en teen Vrydagoggend was daar 'n poeierlaag sneeu op hoogliggende dele.
Roelf Opperman het 22 mm reën op Amajuba gemeet, terwyl 30 mm reën deur Thomas Theron op die plaas Helvitchia, bo-op die Grootdoornhoekpas gemeet is, wat tot gevolg gehad het dat die Groot Doornhoekwaterval in die Vlekpoortrivier met 'n gedruis begin loop het. Hierdie skouspel gebeur selde. Die water oor die laagwaterbrug op die roete na Burgersdorp, wat vroeër die oggend soliede ys was, het ook weer in beweging gekom na die reën. Grondpaaie in die omgewing was moeilik begaanbaar, en die son het weliswaar nooit op Vrydag deurgebreek nie.
Teen 15:00 Vrydagmiddag was temperature meer gangbaar met 7° bo op die Grootdoornhoekpas en 9° aan die voet van die pas.
Maar deur die nag het temperature weer ver onder vriespunt geval, berig inwoners uit die omgewing. Kaggels, warm sop, en snoesige komberse moes sorg dat bloedsirkulasie aan die gang bly.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’