HOFMEYR NUUS - Die Vrouediensgroep van die NG kerk beplan 'n Woelige Lyfies Vrouedag op Saterdag 28 Mei, vanaf 10:00 in die kerksaal.
"Ons het besluit om die NG kerk se kleuters in ag te neem, met die beplanning van 'n opgegradeerde kleuterkamer by die kerkgebou," deel Elisma de Jager van Hofmeyr mee.
"Die deurlopende tema sal handel oor klein woelige lyfies en alle sprekers sal insette rondom hierdie kosbare onderwerp lewer. Sprekers sal gesels oor talle aspekte rondom babas, kleuters en peuters.
"Elke ouer behoort hierdie inligtingsessie by te woon om die dinge te hoor wat ons nie elke dag in boeke en op Google raaklees nie. Ervare sprekers sal dié onderwerpe hanteer."
Kaartjies teen R100 elk word tans verkoop. Donasies van goeie gehalte tweedehandse speelgoed is ook welkom, slegs een per persoon. Die kaartjie sluit ook verversings in.
Hanlie Barnard, maatskaplike werker, Jeannette de Jager, arbeidsterapeut en Charlotte Laas geregistreerde mediese suster sal as sprekers optree en 'n praktiese kindernoodhulpdemonstrasie sal die dag afsluit.
Kontak gerus vir Elisma by 078 342 5768 om 'n sitplek te bespreek.
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, Karoo nuus'