WILLOWMORE NUUS - 'n Aantal inwoners van Willowmore het die probleme wat deur die DA-parlementslid Samantha Graham-Maré aan die minister van water en sanitasie, Senzo Mchunu, voorgelê is, bevestig en hul dankbaarheid uitgespreek vir haar belangstelling in Willowmore.
Flip Pieterse, voorsitter van die Baviaans Land and Agrarian Reform Forum (BLARF), sê dat die waterprobleme nou al so lank aankom dat dit al lyk asof dit maar so moet wees.
Volgens hom het die munisipaliteit nog nooit belanggestel om die waterprobleme aan te spreek nie. Hy is van mening dat "die mense wat met die water werk seker maar min ervaring het van hoe om met water te werk."
Hy reken dat die munisipaliteit die geld wat hulle so onnodig weggee vir tenders kon gebruik het om die waterprobleme op te los. Oom Flip voel ongelukkig omdat sommige inwoners graag wil plant, maar hulle kan nie.
"Net wanneer die groente mooi groei, sny hulle die water af en dan gaan alles tot niet."
Volgens hom is die meentgrond ook sonder water en die varkboere word daarom genoodsaak om water 3 km ver na die varkhokke aan te dra. Tydens 'n vergadering tussen BLARF, SCLC en Hans Hendricks, hoof operasionele beampte van die munisipaliteit, op 8 Oktober het Hendricks onderneem om Willowmore die komende week te besoek sodat die waterprobleme aangespreek kan word, maar het nooit hierdie onderneming nagekom nie.
Volgens Theresa Barnard, voorsitter van die Willowmore Rural Women’s Task Team en lid van BLARF, word sommige gebiede erger as ander geraak. Die mense by die sogenaamde Blinkdakkies het amper nooit water nie en hul huise ruik al sleg omdat hulle nie hul toilette kan spoel nie. Hierdie mense het nie eens kanne vir water nie.
Sy noem dat die varkboere met 'n waterrekening van R30 000 sit ongeag die feit dat hulle geen water daar het nie. Sy sê die meeste van die varkboere is vroue en dat dit vir hulle moeilik is om die swaar 5-liter kanne met water na die varkhokke aan te dra. "Dis nie reg nie, ons water is belangrik."
'Ons bring jou die nuutste Willowmore, Karoo nuus'