WILLOWMORE NUUS - Benoemings vir Kwêla Dorp van die Jaar 2023 het Vrydag, 17 Maart gesluit, en Willowmore is oorgehaal om mee te ding vir hierdie gesogte titel.
Inwoners El-Anne Smith en Veronica du Plessis het die bal aan die rol gesit nadat hulle deur 'n filmspan van Homebrew aangemoedig is om deel te neem.
"Homebrew was hier vir die verfilming van die plaaslike Christina's House of Hope en toe die dorp ervaar," vertel Jane Zaayman, Willowmore se toerismebestuurder.
"Hulle was so beïndruk dat hulle aangedring het dat ons moet inskryf, omdat ons glo al die eienskappe van die perfekte dorp van die jaar het."
Homebrew is dieselfde filmspan wat betrokke is by die verfilming van Kwêla se Dorp van die Jaar-kompetisie. "Ek self is natuurlik ook mal oor Willowmore," sê Zaayman. "Dit is 'n regte, egte Karoodorpie met opregte mense. Die mense máák Willowmore."
Zaayman sê dis ook die eenvoud van die dorpie wat dit besonders maak - die feit dat die dorp so klein is, dat almal mekaar ken en soos een groot familie voel.
Die dorp het ook baie oulike winkeltjies en interessante historiese besienswaardighede. "Dan het ons ook al hierdie Karoo-skoonheid rondom ons, met staproetes wat jou op asemrowende ervarings neem, én ons is die ingang na die Baviaanskloof. We've got a lot going for us."
Zaayman noem dat dit vir hulle baie belangrik is om te wen. "Ons kry nie vreeslik baie finansiële ondersteuning van die munisipaliteit nie. Hierdie jaar is daar weer groot prysgeld op die spel en ons sal so baie daarmee kan doen – gemeenskapsprojekte maar ook om die dorp self so bietjie op te kikker."
'n Beautifying Willowmore-projek is reeds aan die gang en dat van die wengeld daarvoor kan gaan. "Die hele dorp is gretig om ondersteuning vir Willowmore te werf, maar ons het almal se hulp nodig. Ons vra daarom dat die hele Beyers Naudé-munisipaliteit ons asseblief moet ondersteun."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’