KAROO NUUS - Sowat 13 werknemers van Graaff-Reinet sal nou goed kan kophou in 'n krisis, nadat hulle 'n driedag noodhulpkursus bygewoon het.
Oudonderwyser Johan Smit, nou 'n dosent en assessor vir die SA Noodhulpliga, het die gekombineerde vlak 1 en vlak 2-kursus aangebied vir werknemers van Camdeboo Spar, Spandau Spar, Vrede Farms en The Labour Co.
Die kursus is vanaf Maandag 26 Oktober tot Woensdag 28 Oktober by die Botanies-sportterrein in Graaff-Reinet aangebied.
"So 'n kursus is belangrik want dit leer jou hoe om 'n noodsituasie te hanteer," het Smit verduidelik. "Dit gee jou selfvertroue om te weet wat jy moet doen, en só kan jy 'n lewe red."
Smit het vir Jurie Smith van The Labour Co. bedank, aangesien hy die dag moontlik gemaak het. Nog sulke opleidingsessies is in die pyplyn.
"Dit is belangrik om werknemers so veel as moontlik op te lei en hulle so ook op te hef," het Smith gesê.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'