MOLTENO NUUS - 'n Werklose jong man van Molteno, Lennox Dyoba, lok groot getalle besoekers na sy handewerk.
'n Inwoner het aan die Graaff-Reinet Advertiser vertel dat Lennox man-alleen reeds die sypaadjie voor die Siësta aftree-oord en voor die sportgronde verfraai het. By nadere ondersoek blyk dit dat hy nie alleen die sypaadjies skoonmaak nie, maar dat hy ook tientalle strukture oprig, verf en versier. En daarna saai hy saadjies in die strukture.
"Op die oomblik staan die stink Afrikanertjies vol in die blom en dit verfraai regtig die hele omgewing," vertel 'n omstander.
"Ek maak die strukture van goed wat ek by die ashope optel en dan maak ek planne om mooi goed daarmee te maak. Die oumense wat hierbinne bly gee vir my saadjies en oorskietverf, waarmee ek alles mooi maak,” beduie Lennox na die inwoners van die ouetehuis.
Dit was reeds dié inwoners wat ons aandag gevestig het op die verbeterings wat die jong man, wat werkloos, maar ywerig en kreatief is, in die dorp verrig.
Netjiese blombeddings in 'n ry - die handewerk van Lennox Dyoba."Soos talle plattelandse dorpies is daar ook maar in Molteno loslopende vee, maar hy het slim planne beraam om steeds die plantjies veilig binne te hou sonder om afbreuk te doen aan sy kunstige skeppings,” vertel Christine Vermaak, ‘n boervrou uit die distrik wat gereeld by die Siësta-oord ‘n draai gaan maak omdat haar bejaarde ma daar woon.
"Ek sal regtig in enige dorp gaan werk, want ek kan mooi goed maak van die goed wat op die dorp se ‘tiep’ land,” sê Lennox. “Ek sal ook vir jou die sypaadjie voor jou huis kom mooi maak. Ek kan werk met jou plan as jy vir my sê wat jy soek!”
Hy woon ook by die asgate, want dan het hy eerste toegang tot die skroot wat afgelaai word.
Só lyk die netjiese blombedding wat die werklose Lennox Dyoba eiehandig maak om die dorp te verfraai.
'Ons bring jou die nuutste Molteno, Karoo nuus'