GRAAFF-REINET NUUS – Behoeftige leerders – verbonde aan die Spandau Sekondêr Skool – het onlangs gebaat by 'n projek wat deur ‘n weldoener van Graaff-Reinet vanjaar vir die eerste keer van stapel gestuur is.
John Doans, boorling van Graaff-Reinet, het met behulp van Spandau-leerkragte, Rose Koeberg en Taya Grootboom, die uitreikaksie laat realiseer.
Doans het tydens ‘n gemeenskapsvergadering met Koeberg in gesprek getree om uit te vind hoe hul te werk kan gaan om armoedige leerders vanuit die skoolgemeenskap by te staan.
Baie van dié leerders word daagliks beproef met die versoeking van dwelms en ander euwels en is daar dikwels nie genoeg motivering vir hulle om hul skoolloopbaan voort te sit nie.
Doans en Koeberg het vir Grootboom betrek en saam het hulle dit ten doel gestel om ‘n plan te beraam om dié leerders nuwe hoop te gee en hul by te staan om hul matrieksertifikaat te verwerf.
Die weldoeners het ‘n motiveringsprogram van stapel gestuur by die skool wat leerders dan twee maal per week kan bywoon.
Daar word gehoop om hierdeur ‘n positiewe verandering in die leerders se lewe te weeg te bring en word daar tot dusver groot sukses hiermee behaal.
Spandau Sekondêr se bestuur spreek hul opregte dank uit teenoor Doans.
Op 26 Januarie is daar aan die leerders betrokke by dié program nuwe skoolskoene uitgedeel -dit was met groot opgewondheid ontvang.
Doans het pas sy 40ste verjaarsdag gevier en vra hy dat sy vriende en kennisse instede van geskenke eerder geld sal skenk ten bate van nuwe skoolskoene.
Spandau Sekondêr se bestuur spreek hul opregte dank uit teenoor Doans vir sy bereidwilligheid om ‘n verskil in die lewe van hul leerders te wil maak.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'