RUBRIEK - Ek vind oom Klaas, snoeiskêr in die hand waar hy gebukkend by 'n jong granaatboompie staan. Ek groet: "Is dit snip-snip-tyd, Oom?"
"Man ja, nie almal wat met 'n snoeiskêr knip, kan noodwendig snoei nie. Jy kan 'n boom morsdood snoei," laat val Oom Klaas.
"As hy nou nog gelewe het, kon jy 'n ene dr. Alex Shigo gevra het. Wat die oumense meestal vanself geweet het, het hy wetenskaplik nagevors en bewys: bome kry ook seer en van seerkry kan hulle doodgaan. So gesond soos die regte snoeiwerk kan wees, so tragies kan verkeerd snoei wees: knip 'n verkeerde tak, of knip die regte tak op die verkeerde plek en die boom kan doodgaan.
"Om te weet wat jy doen terwyl jy die snoeiskêr inlê, is natuurlik belangrik; netso is die keuse van gereedskap. Maar die twee belangrikste goed aan snoei is dat jy weet watse boom dit is wat jy snoei; en dat jy onthou die doel is om die boom te HELP om gesond te groei – nie om JOU wil op die boom af te forseer deur hom te vorm na JOU sin nie.
"Ek wil jou vertel van die verskillende gereedskap, want dis belangrik – 'n man saag nie 'n dun takkie af nie, net so min kou jy 'n dik tak af met 'n snoeiskêr. Net so wil ek jou vertel van die basiese tipes snitte wat jy kry.
Elkeen van die snitte het 'n spesifieke doel en elk van hulle moet op die regte plek en manier gemaak word.
"Maar kom ons begin by die begin: jy kan al die snitte uit jou kop ken en hulle maak soos 'n wafferse chirurg; en jy kan 'n hele tuinwinkel se alle gereedskap by jou hê, maar as jy nie weet watse boom jy snoei nie, moet jy maar eerder los. As algemene reël snoei jy sierbome anders as vrugtebome. Maar jy snoei ook 'n appel- of peerboom anders as 'n appelkoos- of granaatboom. Jy snoei 'n roosboom anders as 'n skaduboom. En wingerd snoei jy nog weer heeltemal anders.
Met wingerd veral, moet jy onthou: snoei vroeg vir blaar; snoei laat vir drag.
"Dit klink eenvoudig dat 'n snoeier moet weet wat hy snoei, maar het jy al opgelet in die winter, kaal, sonder blare, hoe baie lyk van die vrugtebome net dieselfde? Sommer nou weet jy nie of jy by 'n perske- of appelkoosboom staan nie; of is dit 'n appel- of pruimboom? Strakkies is dit 'n peerboom?
En dis hoekom ek vir jou sê die eerste ding vir 'n snoeier wat ernstig is, is om aandag te gee aan presies watse boom hy snoei. Die tweede is om te onthou snoei gaan nie oor die snoeier nie – snoei gaan oor die boom se gesonde ontwikkeling.
"Netso is dit met elke mens in 'n leierskap- of bestuursposisie. En net so is dit met elke ouer ten opsigte van sy kinders ook. Daar is basiese tegnieke en allerlei toepaslike gereedskap en hulpmiddels, maar die kern is dat elke leier of bestuurder, en veral elke ouer, sal onthou elke mens, elke kind, is uniek. En snoeiwerk – teregwysing – gaan oor die ander persoon of kind se gesonde ontwikkeling; nie oor die leier, bestuurder of ouer se wil nie. Snoei 'n peerboom soos 'n roosboom, of 'n granaatboom soos wingerd en wees vir jouself kwaad as jy sonder vrugte, of met 'n dooie boom, sit.
"Maar jy kan nou volgende week weer kom, dan praat ons nog, want nou wil ek eers terugkom by my granaatboom."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’