KAROO NUUS - Vrydagmiddag, 23 Oktober, het die belofte van 'n donderstorm ingehou, en dit is voorafgegaan deur weerlig in beide die Hofmeyr- en Tarkastad-distrikte.
Kort na 14:00 het daar op die onderskeie Boerevereniging WhatsApp-groepe noodkrete uitgegaan van boere waar weerlig die veld aan die brand geslaan het.
Die Tarkastad- en Hofmeyr-gemeenskappe is voorbereid op die moontlikheid van veldbrande, aangesien dit 'n redelike algemene gebeurtenis is tydens donderstorms wat met weerlig gepaardgaan. Veral die bergveld is meer vatbaar, aangesien die geharde grastipes nog nie groen uitgeloop het na die onlangse reën nie.
In die Hofmeyr-distrik is 'n brand by Johan du Plessis van die plaas Bloemhof digby Hofmeyr aangemeld, en die Hofmeyr-boerevereniging het hom gaan bystaan. Verskeie boere het opgedaag met brandenjins, brandblasers, rugsakke en werkers. Die brand is spoedig onder beheer gebring.
Op die plaas van Pieter en Ronell Herselman in die Tarkastad-distrik, is daar egter tot Sondag nog gespook om die veldbrand wat daar in die berge ontstaan het, onder beheer te kry. Ook daar het bure, lede van die plaaslike gemeenskap, die boerevereniging en werkers hulle te hulp gesnel, om te verhoed dat die brand na omliggende veld versprei.
Daar word vertrou dat die ligte reënbuitjies wat oor die gebiede uitsak, vinnig 'n groen skynsel oor die swart gebrande veld sal bring.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'