GRAAFF-REINET NUUS - 'n Dreigende waterkrisis staar Graaff-Reinet in die gesig met die Nqwebadam wat byna leeg is.
Die dam, wat daagliks water aan die ongeveer 37 000 inwoners van Graaff-Reinet moet voorsien, se vlak het op Maandag, 21 Januarie, op slegs 2% gestaan.
"Ons wil graag die erns van die situasie beklemtoon," sê Deon de Vos, burgemeester van die Dr Beyers Naudé-munisipaliteit.
"As gevolg van die uiters hoë temperature en 'n gebrek aan reën wat die dam se water vinnig laat opdroog, en die slik en modder in die dam wat die laaste biedjie water basies onbruikbaar maak, sal die munisipaliteit binnekort die pompe by die dam moet afskakel. Dit sal tot gevolg hê dat die dorp slegs van boorgat-water afhanklik sal wees," sê burgemeester De Vos.
Hoe werk die dorp se boorgate?
Graaff-Reinet het tans twee boorgatvelde: die noordelike een bekend as Damkamp en die ander een geleë by Mimosadale.
Damkamp het altesaam 22 produksie boorgate en Mimosadale agt.
Graaff-Reinet benodig 7 miljoen liter water daagliks om te funksioneer - huidiglik kan Damkamp aan 70% van dit voldoen en Mimosadale 30%.
(Die behoefte is gebaseer op die dorp se watergebruik voor beperkings en wat van die dam af voorheen voorsien is aan die dorp.)
As inwoners egter nie dadelik gehoor gee aan die waterbeperkings nie, sal die aanvraag binnekort die aanbod oorskry.
Ten spyte van voortdurende monitering, kan die lewe van 'n boorgat nie akkuraat bepaal word nie aangesien daar te veel veranderlikes is wat die prestasie daarvan kan beïnvloed, om hierdie rede word inwoners versoek om water te bespaar.
Die munisipaliteit maan inwoners om dadelik gehoor te gee aan die waterbeperkings. Volgens die munisipaliteit sal water rantsoenering ingestel word as verbruikers nie die waterbeperkings in ag neem nie.
"Dit wat ons oorhet, moet ons bewaar. Mense moet besef hoe ernstig die situasie is en nie wag tot die water op is nie," pleit burgemeester De Vos.
"Daar moet daadwerklik water bespaar word indien inwoners nie sonder water wil sit nie. Ons doen 'n beroep op inwoners, sakeondernemings en skole om hul waterverbruik drasties af te skaal, en die druk op ons waterbronne só te verminder."
Boetes
Tot dusver is daar steeds geen boetes uitgereik vir mense wat nie by die waterbeperkings hou nie en waterbeperkings sonder boetes om dit af te dwing het kenners bekommerd.
Op die oomblik word verbruikers se waterrekening slegs op 'n glyskaal bereken (hoe meer jy gebruik, hoe hoër word die tarief).
"Die munisipaliteit gaan binnekort egter begin boetes uitreik - as ons sulke drastiese stappe moet neem om seker te maak mense spaar water, sal ons nie huiwer nie. Nou hoop ons dat mense die wet sal onderhou en nakom," sê Wilca Smith, waarnemende kommunikasiebeampte van die plaaslike munisipaliteit.
"Ons versoek asseblief alle inwoners om water uiters spaarsamig te gebruik en enige lekkasies en pypbarste onmiddelik te rapporteer. Ons onderneem om spesiale aandag aan die herstel van lekkasies te gee. Dit is belangrik dat ons almal begin besef dat elke druppel tel en 'n vermorsing kan die watertekort-krisis in 'n totale ramp laat ontaard."
Inwoners wat waterlekkasies, of individue wat water mors wil aanmeld, kan 049 807 5800 / 049 807 5756 skakel.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'