GRAAFF-REINET NUUS - Niks briek 'n boer, het ek altyd geglo. Maar wraggies, die boere is gebriek.
In die Hofmeyrdistrik kan boere nie boer nie, dis te nat! En wat 'n voorreg, seën en genade is dit nie.
Geen trekker kan in 'n land ingaan nie, want dan sit dit vas. Geen vrag lusern, hawer, tef of mielies kan gelaai word nie, want die paaie is te nat. Reeds bespreekte vragte moet oorstaan tot die son weer skyn. En die son sal altyd weer skyn!
Beeste en skape kan nie bymekaargemaak word nie, krale is ñ modderbad en werkers reën sopnat terwyl hul vee bymekaarmaak, so nou kry hul ook asemskepkans.
Elke riviertjie en bergstroompie kom af, en is vir voetverkeer onbegaanbaar, of dit nou mensvoete, beespote of skaapkloutjies is.
'n Gebriekte boer is vir een keer in 40 jaar 'n fees!
Die boer se spore kom net tot by sy bakkie se spore van gister, en dan draai hul terug.. want die modder lê net dieper, hoe verder van die huis af hy spore maak!
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'