Gallery
WILLOWMORE NUUS - Willowmore se inwoners gaan steeds gebuk onder streng waterbeperkings wat Dr. Beyers Naude-munisipaliteit op 5 Januarie ingestel het. Dele van die dorp is soms dae aaneen sonder water.
Die munisipaliteit het in Januarie gesê die beperkings is genoodsaak omdat die watertoevoer vanaf Wanhoop na Willowmore onder geweldige druk verkeer.
FOTOGALERY: Willowmore se waterprobleme
Zola Menze, voorsitter van die EFF in Willowmore, het egter die munisipaliteit blameer. "Indien die munisipale bestuur die vaardighede gehad het waarvoor hulle betaal word, sou hulle hierdie waterkrisis doeltreffend kon bestuur."
Dit wil egter voorkom asof die skuld vir Willowmore se watervoorsieningskrisis nie heeltemal voor die munisipaliteit se deur gelê kan word nie.
Geskiedenis van Wanhoop
DA-raadslid Ewald Loock verduidelik dat Willowmore se water al vir dekades vanaf die plaas Wanhoop in die Uniondale-distrik gepomp word. Hierdie plaas is in 1958 deur die munisipaliteit gekoop en die waterskema, wat die ontwikkeling van die waterbronne en watersuiweringswerke ingesluit het, is in 1964 geopen.
Die plaas is later weer verkoop maar met behoud van die waterregte. Volgens Loock was daar deur die jare nooit enige probleme nie, maar dinge het glo begin skeefloop nadat Anelle Ekkerd die plaas in 2010 gekoop het.
In September 2011 moes die destydse Baviaans-munisipaliteit 'n dringende hofinterdik teen Annelle Ekkerd, haar eggenoot ds. Johan Ekkerd en skoonpa Willem Ekkerd bekom omdat hulle glo 'n klep en hefboom op die munisipaliteit se hooftoevoerpyp geïnstalleer het.
Met hierdie klep en hefboom het hulle die dorp se water na die plaas se besproeiingsdam en vandaar na die landerye herlei. Die berig Willowmore vs Wanhoop in Oudtshoorn Courant, 7 Oktober 2011 verwys.
Volgens die Ekkerds se regsverteen-woordiger, Hannes Jacobs van JJ Jacobs Attorneys Incorporated in Pretoria, was daar wel jare gelede 'n dringende aansoek, maar volgens hom was die feite nie korrek nie. "Ons kliënt het nog nooit toevoer na Willowmore op enige wyse gestop nie," sê Jacobs.
Loock glo dat die Ekkerds se weiering om die nodige serwitute te laat registreer grootliks bydra tot die watertekort in Willowmore.
Loock sê die munisipaliteit het waterlisensies op al die waterbronne in die sogenaamde Fontein Akwafer, maar dat serwitute geregistreer moet word om hierdie bronne uitsluitlik vir munisipale gebruik te reserveer. Die serwitute sal dan ook aan die munisipaliteit alleenreg tot die suiweringswerke, pyplyn en toegangspaaie verleen.
Op hierdie stadium het die Ekkerds glo twee sonkragpompe op boorgate wat aan die munisipaliteit behoort. Hulle is ook van mening dat die fontein, wat een van die munisipaliteit se waterbronne is, aan die plaas behoort.
Na bewering is die wal van een van die gronddamme wat die Ekkerds laat bou het ook bo-op die munisipaliteit se pyplyn, wat dit onmoontlik maak om die pyplyn te hersien of te herstel.
Muni 'nie benadeel'
Jacobs is egter van mening dat daar "geen benadeling vir die munisipaliteit" is soos wat Loock beweer nie. Waterlisensie No 16/J31A/A/2018, saamgelees met die oppervlakooreenkoms wat op 13 April 2019 deur die plaaseienaar en die munisipaliteit geteken is, bepaal glo die munisipaliteit se regte en voorwaardes en dit word deur die plaaseienaar eerbiedig.
Jacobs beklemtoon dat daar konstante negatiewe propaganda teen die plaaseienaar gevoer word wat haar naam en reputasie skaad. "Sy word deur die munisipaliteit as die spreekwoordelike 'vark in die verhaal' uitgehou omdat die munisipaliteit versuim om aan die voorwaardes van die waterlisensie te voldoen en om addisionele waterbronne te bekom, soos vereis deur die departement van waterwese."
Verder voer Jacobs aan dat die Ekkerds "binne hulle regmatige wettige watergebruik" is en dat dit "geen invloed op die onttrekking van water deur die munisipaliteit vir die dorp Willowmore het nie".
Loock sê die Ekkerds het egter nie 'n lisensie om water uit die boorgate te onttrek nie. Daar is ook, volgens Loock, geen oppervlakooreenkoms tussen die plaaseienaar en die munisipaliteit nie.
Die Ekkerds het glo aanvanklik hierop aangedring, maar later ingestem dat die serwitute geregistreer kan word. Die opmetings is gedoen en die nodige serwitute is opgetrek, maar die Ekkerds het sekere besware daarteen aangeteken.
Sommige besware is gehandhaaf en die serwitute is dienooreenkomstig gewysig, maar die plaaseienaar versuim glo steeds om dit te laat registreer. Volgens Jacobs is daar 'n "behoorlike gemotiveerde brief aan die munisipaliteit gestuur wat duidelik uiteensit dat die munisipaliteit se voorgestelde serwitute teenstrydig is met die waterlisensie en oppervlakooreenkoms, derhalwe moet dit eers in geheel reggestel word".
Loock voer egter aan dat van die besware wat deur die plaaseienaar aangeteken is, insluitend die beswaar oor die fontein, van so aard is dat dit nie glad nie toegestaan kan word nie.
Hierdie Google Earth foto's gedateer September 2011 en Oktober 2019 wys duidelik dat hierdie 'dam' nie in die rivier was toe Annelle Ekkerd die plaas in 2010 gekoop het nie
Sonde met die bure
Die wal op die munisipaliteit se pyplyn is nie die enigste omstrede wal op Wanhoop nie.
Volgens Chris Pretorius, eienaar van die buurplaas, het die Ekkerds in 2018 'n groot gat in die rivier gegrawe en 'n wal in die rivier gegooi. Pretorius vertel dat die Ekkerds al in 2014 "aan die rivier begin krap" het.
Hulle het glo met 'n stootskraper daar ingegaan en begin stoot om die rivier groter te maak. In 2018 het hulle, na bewering, verder gegaan en 'n dam van ongeveer 4033 vierkante meter in die rivier gebou. Sodoende het hulle "al die water vir hulself toegeëien en die rivier, en gevolglik die plase, aan die onderkant van Wanhoop, heeltemal drooggelê", aldus Pretorius.
Hy vertel verder dat hy aanvanklik glad nie besef het wat die Ekkerds gedoen het nie, omdat die water nie onmiddellik opgedroog het nie. In Desember 2019 was dit egter heeltemal droog. "Ek het ondersoek ingestel en Johann Ekkerd gesoebat om water deur te laat sodat ek ook kan oorleef. Ek het hom gewaarsku dat ek dit gaan rapporteer indien hy nie gehoor gee nie, maar hy het hom glad nie aan my gesteur nie. Ek het dit in Januarie 2020 by die departemente van omgewingsake en waterwese aangemeld."
Volgens Jacobs is die bewerings dat die Ekkerds die rivier en plase aan die onderkant van Wanhoop drooggelê het vals. Hy bevestig dat daar wel 'n ondersoek deur omgewingsake rakende "herstelwerk gedoen aan vloedskade op die plaas" is, maar beklemtoon dat daar "geen onwettighede" is nie. Verder voer Jacobs aan dat die plaaseienaar self die departement van waterwese genader het om goedkeuring te verkry vir die rehabilitasie van 'n historiese dam op die plaas.
Johann Ekkerd het ook aan Graaff-Reinet Advertiser gesê dat hierdie 'dam' alreeds in die rivier was toe hulle die plaas in 2010 gekoop het. Graaff-Reinet Advertiser het intussen vasgestel dat daar wel 'n historiese dam op die plaas is, maar dat hierdie dam nie naby die 'dam' in die rivier is nie.
Verteenwoordigers van beide omgewingsake en die regsafdeling van omgewingsake in Kaapstad het bevestig dat die aangeleentheid, soos aangemeld deur Pretorius, wel ondersoek word, maar kon nie besonderhede bekendmaak nie omdat dit 'n geregtelike ondersoek is.
Volgens die verteenwoordiger van waterwese het hulle 'n akwatiese spesialis ingekry wat aanbeveel het dat die rivier na sy oorsponklike toestand herstel moet word.
Die eerste rehabilitasieplan is glo afgekeer omdat dit nie voldoende was om die rivier se vloei ten volle te herstel nie. Die gewysigde plan sal in Maart 2023 ingedien word en prioritiseer word vir goedkeuring sodat die herstelwerk kan begin.
Google Earth fotos van Chris Pretorius se plaas aan die onderkant van Wanhoop geneem op 11 November 2018 en 15 Oktober 2019 onderskeidelik wat wys dat die plaas drooggelê is. Pretorius moet nou op sy eens vrugbare plaas, water vir sy vee aanry.
'Ons bring jou die nuutste Willowmore, Karoo nuus'