Gallery
ABERDEEN NEWS — Vroegoggend op Woensdag, 1 Augustus, was Aberdeen VLV gereed om vroue van regoor die omgewing te bederf met ‘n heerlike Winter Vrouedag, vol inspirasie en gesellige kuier.
Van oral oor het vroue gery om die dag by te woon - Aberdeen en omliggende plase, Jansenville, Graaff-Reinet, Willowmore, Murraysburg, Rietbron, Klipplaat en selfs Uitenhage en Port-Elizabeth.
Die VLV se tema van die jaar is “Môre Begin Vandag” en die Vrouedag se doel was om vroue op te lig uit die Winter se kloue van soms af en vaal voel en inspirasie te kry vir hulself sowel as die tuin.
Die VLV projek van die jaar is “Ruim Op” en die pragtige dekor het gefokus op die herwinning van weggooi artikels in die huis, terwyl die aanbiedings se fokus was om vroue se binneste te inspireer en op te ruim.
Voorsitter Lea van der Vyver het almal verwelkom waarna Wilma le Roux van Let Love Clothing van Johannesburg haar getuienis gedeel het. Sy vertel van haar moeilike kinderjare, twee mislukte huwelike waar sy eers fisies en daarna emosioneel mishandel en afgetakel is, sowel as die depressie met selfmoordgedagtes waarin sy verval het.
Haar verhaal het gedien as hoop en inspirasie vir al die vrouens teenwoordig - sy het vertel hoe God se beskerming haar deurgedra het en met geloof soos ‘n mostertsaadjie het sy die pad na herstel geloop.
Courtney Whittaker van Starke Ayres in Port-Elizabeth het toe vertel van hoe blomme nie met mekaar kompeteer nie - elkeen blom net waar hy geplant is. Daarna het hy die vroue laat skaterlag met sy humoristiese aanbieding oor watter blomme en groente om nou te saai, hoe om te saai, sowel as die produkte beskikbaar teen peste en plae. Hy het verskeie Starke Ayres produkte weggegee tydens sy praatjie.
‘n Hoogtepunt van die dag was die modeparade van Let Love Clothing se klere deur van die plaaslike vroue.
Onder luide toejuiging het 10 vroue verskillende uitrustings en hoe om dit by jou eie styl aan te pas gewys. Die klere was die dag te koop en kan ook oor die internet bestel word.
Daarna is die trekking van die wenners van die lootjies gedoen - twee trekkings vir 2 nagte vir 2 persone by die Riviera Hotel op Hartenbos, sowel as ‘n pragtige Marguerite Beneke-kunswerk was op die spel. Daar is ook verskeie gelukkige trekkings gedoen.
Die formele verrigtinge is afgesluit deur Lea van der Vyver met die bedankings - tientalle borge en mense het bygedra het tot die suksesvolle dag.
Die ongelooflike VLV-span se entosiasme en samewerking het die aanbieding van die dag 'n plesier gemaak.
Lynette Martin, President van VLV Sirkel Middelland, het die Aberdeen VLV-tak bedank vir die aanbied van ‘n lieflike dag.
Die kuier is afgesluit met heerlike tuisgemaakte sop en brood.
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'