ABERDEEN NUUS - Opgetooi en uitgedos het 60 vroue op Vrouedag by die klubhuis opgedaag vir 'n dag vol vrouwees.
Geen moeite is ontsien nie - die klubhuis het gepronk met tafels deftig gedek en versier.
Mina Deysel het die geleentheid met gebed geopen en Sterna Thwaites, die gasspreker, het gesels oor lesse wat sy uit lewenservaring geleer het.
Daar is saam gesing soos net vroue kan sing en toe die musiek kielie, het voete hulle eie ritme gevind. Die ikoon van die dag, Annie Jantjies, het op ouderdom 82 gewys die lewe bly 'n lied.
Daar was net genoeg luister, praat, lag en dans om almal te laat smul aan 'n groot bederf vir enige vrou: 'n skougehalte driegangmaaltyd wat sy nie self hoef te maak nie, opgeskep en spesiaal bedien sodat sy ook 'n slag net kan aansit en ontspan; próé hoe kos smaak sonder om te sug oor al die skottelgoed wat wag.
Lizzy van der Merwe van Hope Center het die geleentheid georganiseer.
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'