GRAAFF-REINET NUUS — Hoër Volkskool se opedag was 'n dag propvol gepak met inligting, maar ook pret en plesier.
Tagtig voornemende Graad 8-leerders het hul eerste treë by dié skool gegee.
Die dag is begin op informele wyse met die bemarkingsopname wat in 2016 van die Volkskole gemaak is.
Die skoolhoof het toe vir die Graad 7s en hul ouers uitgenooi om Hoër Volkskool hul keuse te maak.
'n Dataprojektoraanbieding het gevolg oor wat alles op akademiese, kultuur en sportgebied aangebied word. Die skool se leerlingraadslede het selfs 'n draai op die verhoog gemaak om as modelle die skooldrag te vertoon.
Die aanbiedings, wat in groepe plaasgevind het, het vir groot opwinding gesorg.
Sommige Graad 7s het die eerste keer in hul lewe 'n silhoeëtskyfskietgeweer hanteer. Boogskiet is ook aan hulle bekend gestel.
Disseksie van varklonge het sommige laat gril en ander lighoofdig gemaak, maar dit was vir ieder en elk 'n onvergeetlike ervaring.
In die Fisiese Wetenskap-laboratorium het die spanning opgelaai vir die chemiese reaksies. Die kreatiwiteit van die onderskeie groepe is toe getoets met 'n koekversiering in die Verbruikerstudiesklas.
Die ouers is op 'n besigtigingstoer deur die skool en koshuis geneem waarna die dag met verversings by die Volksie-klubhuis afgesluit is.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'