GRAAFF-REINET NUUS - Reeds drie jaar voordat Afrikaans as amptelike taal in Suid-Afrika aanvaar is, is Volkskool in Graaff-Reinet gestig as die tweede Afrikaanse skool in die land.
Met hierdie kosbare feit as agtergrond is dit onnodig om te verduidelik hoekom Volkskool passievol is oor Afrikaans.
Hierdie passie is op die planke gebring by die ATKV Karoo-toneelkompetisie wat by die bekende Apollo-teater in Victoria-Wes gehou is.
Volkskool het hul kanse gewaag met 'n eksperimentele toneel wat saamgestel is uit verskeie samespraak, digkuns en toneel met hul stuk genaamd Skool in Afrikaans. Hester Prinsloo, onderwyser van Hoër Volkskool, was die dryfveer agter die skool se sukses en het die stuk aanmekaar geweef en meesterlik afgerig.
Vanjaar het die kompetisie op 6 tot 7 Oktober afgeskop met agt skole wat aan die kompetisie deelgeneem het.
Die beoordelaars, wat bestaan het uit Danielle Retief wat die rol van Nikki in 7de Laan vertolk, akteur Rowlen van Gericke van die Getroud met Rugby-faam en radio-omroeper, Rasaad Adams, was uit die veld geslaan met die slim dinamiek en samespel van die leerders.
Jaco Spies, streekhoof van die ATKV het in samewerking met ATKV-tak hoof, Brandon Erasmus, die kompetisie van stapel gestuur en ook 'n fokus geplaas om gemeenskapsbetrokkenheid. Die program het ingesluit dat die leerders die plaaslike gemeenskap besoek, akademici van die Sol Plaatjies Universiteit in Kimberley het die leerders kom toespreek oor studie- en beroepsrigtings wat verband hou met taal en kultuur en sodoende 'n volronde ervaring aan elke deelnemer verseker.
Die feesprogram het gesorg vir 'n emosionele flik-flak van vermaak wat komedie, drama en pitkos vir die siel ingesluit het.
Gedurende die prysuitdeling is Darion Jooste van HVS aangewys as die beste manlike akteur, Hester Prinsloo aangewys as beste regisseur en uiteindelik het Hoër Volkskool weggestap met toekennings vir beste ensemble en die beoordelaars toekenning as die kompetisie se beste produksie. Harde werk tesame met die woeker van talent werp altyd vrugte. Hoër Volkskool staan slaggereed om hul titel in April volgende jaar weer by die Apollo-teater in Victoria-Wes te gaan verdedig.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’