GRAAFF-REINET NUUS - Die Volkskool-familie, asook sy klasmaats van 2004, is in rou gedompel ná die nuus van Petrus van Heerden se skielike heengaan.
Petrus, 'n oudskolier van Hoër Volkskool, het in 2004 gematrikuleer. Hy was 'n kringleier by die VCSV, het uitgeblink in kultuur en hy was lid van die voetslaanklub wat in sy matriekjaar die Strandloper-voetslaanpad aangedurf het.
Petrus het ook vir die tweede rugbyspan uitgedraf wat altyd gereed was met grappie. Hy het almal rondom hom met respek behandel en sy vriendekring se algemene gevoel is dat "hy 'n groot boom was wat te vroeg geval het."
Petrus se toekomsplanne was daarop gemik om B.Sc aan Vrystaat Universiteit te gaan studeer, bietjie geld te maak en daarna te gaan boer.
"Hoër Volkskool is hartseer oor julle groot verlies. Ons glo dat die Here vir julle krag sal gee in hierdie moeilike tyd. Ons skool bring hiermee eer aan sy nalatenskap," het Theo Dorfling, skoolhoof van Hoër Volkskool, gesê.
"Ons innige simpatie aan die Van Heerden-familie, asook sy vrou Alismi. Ons dink aan julle in hierdie hartseer tyd."
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'