GRAAFF-REINET SKOLE NUUS - Drie van Hoër Volkskool see debatslede, Petroné Fourie, Juryna Fourie en Annika Fitzgerald, het verlede Donderdag, 7 Maart, vertrek na Stellenbosch om die jaarlikse US Woordfees by te woon.
Dié Woordfees van die Universiteit van Stellenbosch is 'n 10-dae lange viering van die woord binne sy konteks en in soveel vorme moontlik - soos poësie, prosa, debat, verskillende vorme van drama en musiek.
Die HVS-leerders het in die debatkompetisie vir hoërskole deelgeneem en het hul uitstekend van hul taak gekwyt.
In die eerste rondes, het Hoër Volkskool se span teen die leerders van Bernadino Hights, Jan van Riebeeck en die Schoonspruit Hoërskool te staan gekom.
Na dié drie suksesvolle debatsessies. het HVS se span deurgedring na die semi-finale ronde, waar hul weereens vir Bernadino Hights moes oorwin. Die leerders het egter geensins gesukkel om die beoordelaars te oortuig dat hul in die finaal hoort nie en kom toe te staan teen Stellenbosch Hoërskool in die finale ronde.
Dié debatsessie was 'n uitstekende ronde, met 'n hoë gehalte van argumente en redenasies wat deur beide skole gevoer is.
HVS se leerders het hier uitstekend presteer en na 'n vurige finaal hul opponente oortuigend oorwin.
Hoër Volkskool is toe as die algehele wenners van die "Ou Hande"-kategorie aangewys.
Die skool is besonder trots op dié drie leerders met hierdie uitsonderlike prestasie.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'