GRAAFF-REINET NUUS - Theo Dörfling is nou skoolhoof van Hoër Volkskool.
Dít, nadat hy as waarnemende hoof opgetree na Hennie van Rooyen se aftrede laasjaar. Dörfling het sy loopbaan as onderwyser in 1990 by die Hoërskool Knysna begin. Daarna is hy na die Hoër Landbouskool Marlow. In 2002 is hy as departementshoof by Hoër Volkskool aangestel, en het ook tussen 2011 en 2013 as waarnemende hoof opgetree. Hy is 'n onderwyser wat landbouwetenskap met passie onderrig.
Die praktiese komponent van dié vak gee uitdrukking aan sy liefde vir die natuur. Hy het ook vir baie jare lewenswetenskap gegee.
Dörfling het ook 'n besondere liefde vir kultuur. Leerders word deur hom gemotiveer om hul talente by kunstefeeste te ontwikkel.
In die gemeenskap is hy betrokke as voorsanger by die kerk, hy sing in 'n koor, en is ook betrokke by die bewaring van die kultuur op Graaff-Reinet.
Sy liefde en kennis van atletiek het by elke skool waar hy betrokke was hierdie sport tot hoër hoogtes geneem. Hy is steeds betrokke by die administrasie van die sport tot op streeksvlak. Hy neem self ook suksesvol aan meestersatletiek deel.
Hy het ook al rugby en tennis met baie toewyding afgerig. "Baie leerders se menswees word op die sportveld gevorm," het hy gesê. Volgens Dörfling is onderwys 'n uitdagende maar bevredigende beroep. Vir hom het die kernwaardes van onderwys dieselfde gebly. Hy meen dat aanpassings nodig is in 'n veranderende wêreld, maar dit moet nie ten koste van goeie opvoeding nagejaag word nie. Familie en geloof is die hoekstene waarop hy sy lewe bou. Dörfling glo dat hy gereed is vir sy nuwe uitdaging as hoof, en sal streef om Hoër Volkskool en die onderwys te verbeter vir almal wat goeie ideale nastreef.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'