JANSENVILLE NUUS - 'n Groepie van die Voetspore-selgroep, onder leiding van ds. Daan du Plessis, vergesel deur Nicky en Marné Crouse, het die afgelope naweek na Die Welverdiend-ouetehuis in Jansenville uitgereik.
Volgens Leoné Mulder, bestuurder van die tehuis, was dit 'n baie geseënde oggend.
“Nicky Crouse het leiding geneem met pragtige sang waarna die dominee uit Psalm 23 gelees het en weer daarop gewys het dat die Here in alle tye ons Herder is. Die personeel is ook elkeen bederf met 'n bottel sopmengsel.
"Dit was vir ons seniors ‘n wonderlike geleentheid en hul gaan nog vir lank gesels oor die bederf en die boodskap was vir hulle ook besonders,” vertel Leoné.
“Daar is gesing, die Woord is gedeel en geskenkies is uitgedeel. Die inwoners is met kniekombersies, serpe, koekies en biltong bederf. Jesus se liefde is sigbaar gedeel. Die oudste oom en tannie is 96, ons dank die Here vir die voorreg om Sy verteenwoordigers te kon wees,” het Du Plessis gesê.
'Ons bring jou die nuutste Jansenville, Karoo nuus'