ABERDEEN NUUS - "Ons oues ís mos maar die aalwyne van die mensdom, jong. Nou nie die fraaiste blommetjies nie, maar immer dankbaar vir 'n ou bietjie lewenswater. Kyk maar in die veld hoe 'n aalwyn dankie sê vir reën. Die vrouens van die VLV is ons reën en ons wou 'n slag blom vir hulle," gesels 'n inwoner van Huis Aalwynhof in Aberdeen oor die onlangse bederfoggend gehou deur die ouetehuis vir die VLV se tak op Aberdeen.
Lea van der Vyver, voorsitter van die plaaslike VLV, sê Huis Aalwynhof is ekstra spesiaal vir die VLV-vroue.
"Ons raak almal ouer en ons is eintlik almal so dieselfde. Ons het net liefde nodig. Diensbaarheid en uitreiking is deel van die VLV en om so bedank en bederf te word, is 'n absolute onverwagse toegif," sê Van der Vyver.
"Dit was omtrent 'n belewenis om saam met die inwoners te kuier en te kon deel in alles wat hulle doen," sê Clarissa Lategan, 'n jonger lid van die VLV.
Lategan het tydens die bederfdag 'n paar sangitems gelewer en Koos du Plessis se Gebed met gevoel vertolk. Die personeel van Huis Aalwynhof het ook vir die gaste gesing en gedans. Diane Nel, voorsitter van die ACVV, het gaste op 'n toer van die perseel geneem en hulle beïndruk met die siekeboeg, die biblioteek en die inwoners se blom- en groentetuine asook handgemaakte produkte.
'n Spesiale verrassing was die teen-woordigheid van Jean Watermeyer (91), 'n erelid van die plaaslike VLV, wat spesiaal van Graaff-Reinet gekom het om die dag saam met haar vriende in Aalwynhof te geniet.
Na die smaaklike middagete is die gaste deur Diane Nel bederf met likeur en smelt-in-die-mond oorsese sjokolade.
By die pragtig versierde tafels is van links Christelle Nel, Elna van Niekerk. Karin Pienaar, Clarissa Lategan, Suzanne Lategan en Jean Watermeyer.
VLV-lid Clarissa Lategan het 'n paar sangitems gelewer.
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'