ABERDEEN NUUS - Aberdeen VLV-lede het onlangs ’n heerlike Maart byeenkoms geniet op Platdrif, die plaas van Annalie Lategan. Dáár het hulle heerlik in die tuin, onder koeltebome gesit.
“Dit was ’n pragtige windstil dag, en die wêreld is groen na goeie reën teen die berge rondom Aberdeen,” vertel lid Lea van der Vyver.
Op die dag is vyf besoekers en een nuwe lid, Sonette Müller, verwelkom. Van der Vyver het die geleentheid afgeskop deur ’n stuk, Kies teen vrees, te lees. Dit moedig mense aan om nader aan God te skuif deur moeilike tye.
Na VLV-sake bespreek en afgehandel is, het Lategan vertel oor die lewe van romanskrywer André Brink. Sy lees ook voor uit sy boek Pot-pourri: Sketse uit Parys, wat Brink in Parys geskryf het.
Daarna demonstreer Lategan, met die hulp van Estelle van Wyk, verskillende pottebakkersklei- handtegnieke, asook hoe om met die wiel te werk. Sy verduidelik hoe die klei voorberei moet word, asook verskeie belangrike aspekte om in ag te neem terwyl jy werk.
Müller en Petro Marx was die wenners van gelukkige trekkings op die dag. Verversings is keurig op die stoep voorgesit deur Lategan en Carina Esterhuizen, en die lede het heerlik verder in die tuin gekuier.
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'