ABERDEEN NUUS - Die VLV Aberdeen-tak se vroue het Donderdag 26 Januarie die jaar afgeskop op 'n hoë noot. Voorsitter Lea van der Vyver se verwelkoming, die keurig versierde tafels, die gasspreker se boodskap sowel as die gelukstrekking en afsluiting het 'n hoë standaard vir die res van 2023 se vergaderings gestel.
Adele de Jager, sameroeper vir gesondheid, het vir Diane Bertram van Graaff-Reinet genooi as gasspreker.
Bertram is 'n gesoute sosiale werker en het die sensitiewe onderwerp van gesinsgeweld onder die titel 'Gesinsgeweld is 'n realiteit wêreldwyd' ernstig en met deernis bespreek.
Bertram het verduidelik dat, hoewel fisiese mishandeling die bekendste vorm van gesinsgeweld is, emosionele en sielkundige mishandeling soms die ergste vorm daarvan is. Sy het benadruk dat alleenlik wanneer 'n vrou self glo en voel die mishandeling is nie haar skuld nie, sy kan wegdraai van so 'n verhouding.
Die Aberdeen-tak bied vanjaar die VLV Sirkel Middeland-konferensie aan en 'n groot deel van die vergadering is gewy aan die beplanning daarvan.
Die gelukstrekking is gewen deur Lizé de Jager terwyl Annalie Lategan en Adele de Jager gesorg het vir geurige, kleurryke happies.
Smullekker eetgoed is bedien.
Gasspreker, Diane Bertram, aan die woord.
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'