ABERDEEN NUUS - Die portefeulje vir Aberdeen VLV se Maart -vergadering was Kunste en Handvlyt.
Sameroeper Annalie Lategan het die vergadering geopen met die gelykenis van die muntstukke in Matteus - "soos die muntstukke het ons talente van God ontvang wat ons moet gebruik en nie moet wegsteek nie. Ons moet gedurig groei en nie staties bly nie".
Lategan stel daarna Aberdeen se eie wêreldbekende kunstenaar, Marguerite Beneke, aan die woord om ‘n mosaïek werkswinkel aan te bied.
Lede ontvang elkeen ‘n houtbortjie as basis en kon hul self die spesifieke teëltjies en glasstukkies kies om mee te werk.
Onder leiding van Beneke se instruksies voltooi elkeen ‘n pragtige stukkie mosaïekwerk om huis toe te neem.
Beneke bederf die groep deur een van haar kunswerke te skenk deur die trekking van ‘n lootjie - Jean Watermeyer is die gelukkige wenner.
Lategan deel ook inligting oor nuwe boekvrystellings wat lede uitdaag om te lees.
Die dag word afgesluit met ‘n paar VLV-sake en heerlike eetgoed, keurig voorgesit deur Heidi Lombard en Stephnie van Zyl.
Theresa van der Merwe, Estelle van Wyk, Adelle de Jager, Lize de Jager en Luise de Jager druk besig.
Aberdeen VLV wen bekers
Sirkel Middelland het op 7 Maart 'n konferensie in Jansenville gehou en sewe van Aberdeen se lede het dit bygewoon.
Die Aberdeen-tak ontvang vier bekers: die eerste prys vir lekkers (Carina Esterhuizen), die tweede plek vir meeste nuwe lede, 'n toekenning vir die grootste % groei in ledetal en 'n laaste erkenning vir die voorsitter met die meeste deursettingsvermoë (Lea van der Vyver).
Die bekers wat Aberdeen se VLV-tak tydens Sirkel Middelland se onlangse konferensie ontvang het.
Die kompetisie-inskrywings van die tak vaar ook goed met 'n tweede prys vir gebak (Carina Esterhuizen) en 'n tweede prys vir tekenkuns (Cornelia Cronjé).
Verder was daar ook inskrywings vir digkuns (Annalie Lategan) en blommekuns (Adelle de Jager).
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'