ABERDEEN NUUS — Tydens die Junie-vergadering van die Aberdeen VLV was 'Opvoeding' die fokus van die byeenkoms en is die behoeftes onder die gemeenskap se jeug bespreek.
Luise de Jager (Sameroeper: Opvoeding en Kultuur) het twee sprekers vir die dag gereël.
Estelle van Wyk is as nuwe lid verwelkom.
Lea van der Vyver het die vergadering egopen deur te lees uit Spreuke 31 wat vertel van ‘n vrou se belangrike en kosbare rol in haar huis, maar ook in die gemeenskap.
Die eerste spreker was Neil Pienaar, ‘n wiskunde onderwyser van Kamdebo Primêr in Aberdeen.
Hy het meer vertel van die uitdagings van onderwys in Suid-Afrika en dit wat hy elke dag beleef. Benewens die probleme in onderwys is daar ook sosio-ekonomiese probleme soos dwelms, fetale-alkoholsindroom en tienerswangerskappe. Pienaar bespreek ook die moontlike oplossings vir Suid-Afrika, bv dat daar genoeg bekwame onderwysers aangestel word en dat daar ook fokus en opleiding vir ambagte en hande-arbeid sal wees.
Pienaar gee toe ‘n oorsig oor die skool waaraan hy verbonde is en vertel van die goeie dissipline en uitstekende bestuurspan onder leiding van die skoolhoof Willem Säfers. Daar is wel uitdagings met die groot klasse en leerders wat wissel van begaafd tot remediërend wat in een klas sit.
Daar is ook ‘n voedingskema wat leerders van ‘n gekookte maaltyd voorsien – vir baie die enigste kos wat hulle kry.
Pienaar is passievol om leerders wat die vermoë het om onderwys te studeer reeds in die laerskool te identifiseer en dan by te staan om die regte hoërskoolopleiding te kry sodat hulle vir beurse kan aansoek doen. Hy het ook met ‘n tuinmaakprojek begin waar die skool verfraai word en die leerders ook help. Hy vertel toe hoe VLV betrokke kan raak by die skool.
Na ‘n gesellige teetyd met sop en quiche is dit die spreekbeurt van Leonie Bedaar van die Bambino Sopkombuis op Aberdeen. Die sopkombuis is einde 2016 begin deur Bedaar en haar vriendin Jane Saayman om die onversorgde honger kindertjies in hulle gemeenskap, Lotusville, te help.
Hulle het geregistreer by Maatskaplike Ontwikkeling en gee tans uit hul eie sakke kos aan 40-50 kinders. Op dié stadium is daar een ete per week, maar hulle wil graag drie etes per week verskaf en dan ook die kinders op ‘n Saterdag besig hou en twee maaltye gee.
Die VLV-lede het kosskenkings na die vergadering saamgebring en dit aan Bedaar oorhandig. Lede sal op ‘n deurlopende basis kos, vleisbene en selfs kinderklere op die dorp afgee as skenking om te help.
Die vergadering sluit af met die bespreking van ‘n paar VLV-sake. Elna van Niekerk het die gelukkige trekking van die dag gewen.
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'