GRAAFF-REINET NUUS — Tanya Vosloo was die sameroeper van die Graaff-Reinet VLV-tak se mees onlangse Kunste en Handvlyt-byeenkoms.
Vosloo, vergesel op die klawier by Mimi Lategan, het die lede vermaak deur twee musiek-items met haar dwarsfluit te lewer.
Lategan het toe 'n pragtige gedig voorgelees wat sy self oor Valentynsdag gepen het: 'n Vrou uit die Skepper se hand.
Die taklede het toe vir Zelda Theron as nuwe lid, sowel as al die gaste, welkom geheet.
Die geleentheid se gasspreker, Jenny Sreet - 'n onderwyseres, kleiterapeut en lid van die Assembly of God-gemeente - spreek toe die dames toe.
Aan die einde van haar praatjie het sy die dames voorbeelde van klei-items wat deur mense gemaak is tydens terapiesessies wat sy in dié verband aanbied gewys.
Street se kleiterapieklasse word net in die somer in die Assembly of God se kerksaal aangebied en handel elke week se sessie oor 'n spesifieke teks uit die Bybel.
Sy sluit af deur 'n uitnodiging aan ieder en elk te rig om die sessies by te woon.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'