ABERDEEN NUUS - Die Aberdeen VLV het onlangs 'n intertak-vrouedag aanbied. Volgens Christelle Nel was dit die eerste keer in twee jaar wat hulle dit kon aanbied.
"Dit was 'n feestelike geleentheid wat deur ongeveer 110 dames bygewoon is. Pragtige wit en oranje volstruisvere en die mooiste tafeldekor het gesorg vir 'n unieke en asemrowende styl. Naburige takke en dorpe is goed verteenwoordig en sirkelpresident, Hannelie Low, het ook die geleentheid bygewoon."
Die twee hoofsprekers van die dag was Elna de Klerk van Bloemfontein en Sophia van Heerden van Murraysburg.
"Elna het harte aangegryp met haar getuienis van haar 'ompad' wat God se 'op pad' geraak het. Haar hele lewe het vier jaar gelede handomkeer verander van blakend gesond tot sy telkemale by die dood omgedraai het en tot waar sy vandag is.
"Sophia het meer vertel van haar pad wat gelei het tot haar suksesvolle roosbesigheid in die Karoo, Sophia's Roses. Wat begin het as 'n paar roosbome in haar tuin, het uitgebrei tot 'n besigheid met 16 000 roosbome en baie ander blomme.
"Vandag verskaf sy rose en blomme aan verskeie groot bloemiste en kweek ook eksklusiewe rose. Sy deel wenke rondom benatting, voeding en snoei."
Sophia van Heerden motiveer die dames om rose te plant en deel baie wenke.
90 jaar vieringe
Nel sê die Aberdeen-tak is vanjaar 90 jaar oud, en die besonderse mylpaal is ook tydens die Vrouedag gevier.
"Een van die lede, Carina Esterhuizen, het haar bakvernuf ingespan en gesorg vir 'n meesterstuk van 'n verjaarsdagkoek. Tussen die twee sprekers het Lea van der Vyver (voorsitter Aberdeen) en Hannelie Low (sirkelpresident Middelland) die koek gesny."
Lootjies is verkoop en die wenners is bepaal tydens 'n gelukstrekking. Twee fantastiese pryse is deur Louvain-gasteplaas in die Langkloof en Marguerite Beneke met haar glasskilderwerk, geborg.
Verder was daar gelukstrekkings op die kaartjienommers van die dag en ongeveer 50 vroue is bederf met 'n geskenk of koopbewys. Daar was ook 'n verskeidenheid stalletjies waar items te koop aangebied is.
Lea van der Vyver (voorsitter) en Hannelie Low (sirkelpresident Middelland) sny die verjaarsdagkoek om die tak se 90ste bestaansjaar te vier.
Elna de Klerk praat oor haar siekte en geloofspad van die afgelope vier jaar.
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'