MURRAYSBURG NUUS – Lina van den Berg, sameroeper van Murraysburg VLV se ‘huishulpoggend’ het die teenwoordige 30 huishulpe en vier bestuurslede ingelig oor verstandige waterverbruik.
In die lig van SA se watertekort, is die dames aangemoedig om nie water te mors nie.
Die volgende wenke is gedeel:
• Moenie die kraan laat loop as jy hande was of tande borsel nie;
• Kook slegs soveel water as jy nodig het op ’n slag;
• ’n Koeldrankbottel vol water in die toilet se waterbak, bespaar water;
• Herstel druppende of lekkende krane onmiddellik;
• Wanneer skottelgoed gewas word, moet skottelgoed gesorteer word en van die skoonste tot die vuilste gewas word;
• Maak vroegoggend of laatmiddag tuin nat en gebruik ’n gieter of emmer;
• Vang reën water op en gebruik vir tuinnatmaak;
• Tap slegs ‘n bietjie water in ’n skotteltjie vir kinders om in te speel, hou hul weg van krane af;
• Neem verantwoordelikheid en rapporteer in die dorp waar jy beweeg.
Margaret Booysen, lid en uithaler kok, het toe ’n boeliebief souttert, ’n visbroodjie en hoe om vinnige, heerlike, goedkoop roomys te maak, gedemonstreer. Sy het nog agt ekonomiese resepte aan die teenwoordiges uitgedeel.
Roomysresep: Klits 1 liter First Choice Ultramel vla vir 15 minute teen hoë spoed totdat die volume vergroot en dit styf word. Vries vir 3 tot 4 ure.
Hierna het Raylene van der Merwe die teenwoordig ingelig oor die gevare van drank en dwelms. Die gevare vir gebruikers van alkohol, dagga, kokaïen en tik is breedvoerig bespreek.
Maria en Lollo, huishulpe van die plaas Misthoek het toe van hul handewerk by die ‘huishulpoggend’ gedemonstreer:
• Hulle het gewys hoedat jy van ’n groot dennetol ’n voëltjielokker/voerder te maak. Die tol word met grondboontjiebotter gevul en daarna in voëlsaad gerol. Hierna word dit in die tuin opgehang.
• ’n Handige houer uit ’n 2 liter koeldrankbottel. Die middelste deel word uitgesny. Al om die propgedeelte (bo) word sirkels met ‘n viltpen getrek en netjies uitgeknip. Bottelproppe word met ’n ystersagie afgesaag en die gekleurde ringe word in die gaatjies in die bottel se bokant gedruk. Die boonste en onderste dele word met gom aanmekaar geplak en met ‘n mooi kleeflint bo-oor geplak as versiering. Die houer kan gebruik word vir tandeborsels, penne, hekelpenne, ens.
Op die vraag waar hulle hul idees vandaan kry, was die antwoord: ”Ons Google dit, Mevrou”!
Ja, VLV en sy omgewing is mos nou 100% rekenaargeletterd!
Huishulpe wat die oggend bygewoon het.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'