ABERDEEN NUUS - Onder leiding van land- en tuinbousameroeper, Elna van Niekerk, het die VLV in Aberdeen hul maandelikse vergadering op Woensdag, 15 Februarie by De Denne in Aberdeen gehou.
Plaaslike inwoner, Lizzy van der Merwe, het die dames toegespreek oor herwinning van herbruikbare materiaal en die uitdagings daaraan verbonde.
‘n Bekende groentesaadprodusent het verlede jaar aan die Aberdeen VLV spinasie-, beet- en wortelsaad geskenk.
Vandeesmaand se vergadering het ook gefokus op die produkte wat met daardie saad verbou kon word.
Elna van Niekerk en Elise Steynberg het die dames getrakteer op wortelslaai, spinasie-souttert, beetslaai en vir die soettand, geurige wortelkoek.
Lede is vooraf versoek om vars groente saam te bring. Díe groente is later die dag aan die plaaslike tehuis vir bejaardes, Huis Aalwynhof, geskenk.
Die verrassing en hoogtepunt van die dag was egter die teenwoordigheid van 81-jarige Anna Heroin, moeder van Elna van Niekerk.
Tydens die besoek aan Huis Aalwynhof het Anna sakkies wat sy self gehekel het aan inwoners uitgedeel.
“Die blydskap en vreugde wat Tannie Anna se verrassing vir die mense by die ouetehuis – en vir haarself – gebring het, was opvallend. Wat ‘n voorreg om daarin te kon deel. Ek sal dit nog lank onthou,” sê Lea van der Vyver, voorsitter van Aberdeen VLV.
: Lea van der Vyver (agter links) en Elna van Niekerk (agter regs) oorhandig die vars groente aan Aalwynhof-personeel - vlnr voor, Magriet Gertse, Seroline Jackson en Karen van der Heever.
Anna Heroin (links) oorhandig van die gehekelde sakkies aan Gaye Day (middel) en Caty Victor (regs).
Al die fraai sakkies is deur Anna Heroin gehekel.
Die eetgoed het die gawe van groente gevier.
VLV-lede by van die vars groente, is agter van links: Lizemari Jordaan, Luise de Jager, Lea van der Vyver, Karen van Rensburg en Karin Pienaar. Voor: Maryke Lategan, Elise Steynberg, Elna van Niekerk, Suzanne Lategan, Clarissa Lategan en Anna Heroin. Foto's: Verskaf
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'