NIEU-BETHESDA NUUS - Die Koeikamp informele nedersetting in Nieu Bethesda het Maandagaand heeltemal oorstroom toe die Gatsrivier se walle meegegee het.
Benoude inwoners het na hul wyksraadslid, Ricardo Smith, uitgereik waarna die munisipaliteit in kennis gestel is van die situasie.
Hierdie inwoners was aanvanklik vasgekeer maar is later na veiligheid vervoer. Hulle moes die nag in die plaaslike kleuterskool deurbring omdat hul huise ontoeganklik en heeltemal onder water was.
Die munisipaliteit het twee noodvoertuie vanuit Graaff-Reinet gestuur maar hierdie voertuie kon ongelukkig nie deurgaan nie omdat die rivier geweldig sterk afgekom het. Talle huise in ander buurte van Nieu Bethesda het ook oorstroom tydens hierdie hewige reënbui wat uitgesak het. Groot paniek het geheers en dit is vererger deur die kragonderbreking en die feit dat daar beperkte netwerk was om met die buitewêreld te kommunikeer. Volgens Victoria Nance van Nieu Bethesda is daar groot skade oral. "Baie mense het alles verloor," sê Nance. "My boekwinkel het ook heeltemal oorstroom." Raadslid Smith het Dinsdagoggend verslag gegee dat baie van die informele handelaars se stalletjies ook heeltemal weggespoel het.
Raadslid Smith en die burgemeester, Raadslid Willem Safers, het Dinsdag met die munisipale bestuurder in gesprek getree rakende hierdie natuurramp in Nieu Bethesda waarna die munisipale bestuurder sy versekering gegee het dat die munisipaliteit alles in hul vermoe sal doen om inwoners by te staan.
Raadslid Smith het ook bevestig dat hy en Raadslid Safers saam met die Direkteur van Infrastruktuurdienste, Bennie Arends, en die waarnemende hoof van die Dr Beyers Naudé-munisipaliteit se verkeer, wetstoepassing en rampbestuur, Darryl Clingen, op pad is na Nieu Bethesda om te gaan bepaal wat die omvang van die skade is.
Nieu-Bethesda inwoner, Viictoria Nance, se boekwinkel het heeltemal oorstroom.
Die Gatsrivier het met groot spoed afgekom.
'Ons bring jou die nuutste Nieu Bethesda , Karoo nuus'