Gallery Update Video
GRAAFF-REINET NUUS EN VIDEO - 'n Ma wat vir 16-jaar lank versamel het aan brokkies van 'n droom om die beste vir haar kinders te bied, se droom lê nou in roet en as.
Beledine Babbers se woning, in Strelitziastraat, Geluksdal, het Sondagmiddag in puin gelê toe 'n verwoestende brand van agter 'n sinkplaathuis op die erf na die huis gespring het.
Haar kinders, Harriet (13), Frandoline (15) en Le Roy (19), was nie tuis tydens die voorval nie. Met die ondersteuning van 'n vriendin, Leentjie Jack, en twee besoekende kinders (ouderdomme ses en 10), moes sy toekyk hoe vlamme haar huis verwoes.
'n Bewoë Babbers het herhaaldelik aan die Advertiser gesê: "ek het nêrens om heen te gaan. Ons het niks oor nie." Babbers werk as huishulp twee dae 'n week.
Met haar bewende hand het sy gewys na die ramptoneel. "Wie gaan my help?", wou sy weet. In haar ander hand was 'n uitgebrande skoolboek, waarin Frandoline vir huiswerk die uitwerking van drukking van olie op 'n silinder neergeskryf het.
Die uitgebrande sinkplaathuis aan die agterkant van die woning.
Kyk 'n video hieronder:
Frandoline is in Asherville Sekondêr en Harriet in Graaff-Reinet Primêre Skool. Beide is nou leerders sonder die nodige skoolmateriaal of klere. Inwoners wat die Babbers-familie kan bystaan met noodsaaklikhede, kan Beledine Babbers kontak op 073 057 9160.
Volgens Kapt Bradley Rawlinson van die Graaff-Reinet SAPD is die oorsaak van die brand nog onbekend.
Nooddienspersoneel op die toneel. Foto's: Christo Vermaak
Lees 'n vorige artikel: Geluksdal family in need after devastating fire
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'