JANSENVILLE NUUS - Vinnige optrede van die polisie en sekerheidsfirmas het daartoe gelei dat 'n moontlike veedief in sy spore gestuit is.
Die polisie in Jansenville is Saterdag om 17:30 deur 'n plaaseienaar vanuit die distrik gekontak met betrekking tot 'n skaap agter op 'n verdagte voertuig.
Volgens Brett Barlow van die Navic-kamerasisteemfirma is hulle gekontak en die voertuig se registrasienommer is ingevoer.
"Inligting is onmiddellik opgevolg en die eienaar van die voertuig is opgespoor. Hy was egter in Kaapstad vir die Paasnaweek en was onbewus daarvan dat sy voertuig gebruik word. Geen persoon het toestemming gehad om sy voertuig te gebruik nie, of om enige van sy lewende hawe te vervoer nie."
Die kamerasisteem het vervolgens die voertuig waargeneem waar dit Jansenville binnegaan met 'n skaap agterop. Dit is ook 'n ruk later waargeneem waar dit die dorp verlaat sonder die skaap. Alle inligting is onmiddellik aan die Jansenville-polisie deurgegee.
"Die polisie is na die plaas waar hulle die verdagtes opgespoor het en hulle het erken dat hulle die voertuig sonder die eienaar se toestemming gebruik het. Hulle het ook erken dat hulle die skaap gesteel en in die dorp gaan verkoop het."
Onmiddellike reaksie op hierdie klag, het gelei tot 'n klag teen die verdagtes en die skaap kon lewendig teruggevind word.
'Ons bring jou die nuutste Jansenville, Karoo nuus'